Gedagte vir die dag: Met Jesus in jou boot

noordseeToe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. Hulle het bedaar en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” (Luk 8:24-25)

Lees Lukas 8:22-25

In Mei 2005 het ek ’n aangrypende ervaring gehad toe die Bizweni-gemeente my genooi het om ’n oggend saam met ’n gestremde klassie deur te bring. Daar was vyf onderwysers wat na sowat sestien kinders moes omsien. Elke onderwyser het kans gekry om dieselfde Bybelstorie – dié een van Jesus wat in die boot aan die slaap geraak het toe daar ’n storm opgekom het – in sy eie woorde te vertel en die prentjies in die Kinderbybel vir sy groepie kinders te wys.

Ek het verwonderd na die vyf onderwysers geluister wat dieselfde storie vyf keer herhaal het, en gewonder hoeveel die kinders, wie se ouderdomme van vier jaar tot twaalf jaar gewissel het, nou eintlik daarvan verstaan het. Nie een van hulle was hoegenaamd in staat om verbaal te kommunikeer nie.

Toe dit die beurt van ’n jong swart onderwyser was om vir sy groepie die verhaal te vertel, het hy sy storie afgesluit met woorde wat ek nooit sal vergeet nie: “As ’n mens vir Jesus in jou bootjie het, jy kan lag in die storm.” Sorg dat Jesus vanjaar in jou lewensbootjie teenwoordig is. Dan kan die lewenstorms maar kom sonder dat jy bang hoef te wees. Hy kan nie net enige storm laat bedaar nie, maar Hy hou jou veilig, selfs ná jou dood.

Here Jesus, dankie vir die voorreg om te kan lag in die storm omdat U in my lewensbootjie teenwoordig is en ek seker weet dat met U by my, ek te alle tye volkome veilig is. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.