Gedagte vir die dag: Minste, grootste

Pa_seun_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 9:43-48

“Wie die minste onder julle almal is, hý is groot”. (Lukas 9:48)

Jesus is besig met groot dinge: Hy maak mense op ’n wonderbaarlike manier gesond en almal staan “verslae oor die grootheid van God” (v. 43). En terwyl almal nog verbaas rondstaan, begin sy dissipels onder mekaar stry oor wie van hulle die belangrikste is. Verbysterend!

Of dalk nié. Dit is mos in die menslike aard om jou in ander   se sukses te baai. Om te dink: As ek maar net naby aan daardie kampioen kan beweeg, sal daar van sy roem ook aan my afsmeer. En sal diegene wat hom bewonder, ook vir mý hande klap.

Dalk verwag ons te veel van die dissipels. Ons reken hulle, van almal, moes van beter weet. Maar hoe sou hulle? Hulle was maar net mense, soos wat die huidige Jesusdissipels maar net mense is. Mense soos ons, wil ook maar raakgesien word.

Ons wil ook hê ander moet van ons en ons status as Jesusvolgelinge kennis neem. Kyk net wat doen Hy – en bewonder dan ook vir mý! Ek dra immers sy Naam …

Is daar enige ander medisyne vir dié siekte as dit wat Jesus destyds gedoen het? ’n Kindjie nader trek, tot beskaming van die dissipels? Sou hulle die ironie raaksien? Sou hulle Jesus se uitspraak oor grootheid ter harte neem?

Ons weet nie. Ons weet net dit sal ’n wonderwerk vereis om Jesus se dissipels – juis die hedendaagse soort, óns – van ’n sieklike beheptheid met eie eer te genees. Ons glo eenvoudig nie daardie uitspraak dat die minstes die grootstes is nie.

Ons, die koninkryk se kinders, moet nog baie leer oor hoe dit in die koninkryk werk. Tot dan sal ons aandagsoekerige peuters bly.

Ek is u kindjie klein. Laat my grootword tot u eer!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.