Gedagte vir die dag: Misplaaste liefde

Foto: pixabay.com

Die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor. (1 Timoteus 6:10)

Paulus het Timoteus gewaarsku dat verkeerde gedrag en die pynlike resultate daarvan dikwels teruggevoer kan word na ’n ongesonde liefde vir geld. Gewoonlik bestee ons ons geld aan drie sake: ons begeertes, ons verantwoordelikhede en uit vrygewigheid.

Die eerste soort het te doen met nie-essensiële sake: ontspanning, luukse artikels, vakansies, en so meer. Die tweede soort uitgawes is dié wat ons móét betaal: ’n huisverband of huurgeld, noodsaaklike huishoudelike items, uitgawes aan vervoer, voedsel en kleding en ander daaglikse behoeftes. En dan is daar die derde soort besteding: om uit liefde geld te gee vir die Here se werk vir wat Hy eerste aan ons gegee het; bydraes vir liefdadigheidsorganisasies of sendingwerk of vir gesinne met finansiële nood. Bestee jy jou salaris ook volgens die volgorde wat hier genoem is?

Die regte ding is natuurlik om jou geld op presies die teenoorgestelde manier aan te wend.

Van jou maandelikse inkomste behoort jy heel eerste ’n deel te gee vir die mense of instansies wat jy wil ondersteun. Volgende moet jy jou vaste finansiële verantwoordelikhede nakom. En heel laaste – daar is niks verkeerd met ’n bietjie pret nie! Let op dat Paulus nie sê geld as sodanig is die wortel van allerlei kwaad nie. Hy praat van die liefde vir geld. Dít is waarmee ons vir ons baie ellende op die hals kan haal. As ’n mens in gedagte hou dat alles wat jy besit deur God se genade na jou toe gekom het, en daarom heel eerste ’n deel van jou inkomste aan sy werk gee, kan jy weet jy sien geld in die regte perspektief.

Wat is jou houding teenoor geld? Wat behoort jou perspektief op geld te wees?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is en vir al die Genade. Amen!

Bertie ·

Ons is geleer om jou tiende eerste vir die Here te gee. Gee die keiser wat hom toekom en gee God wat Hom toekom. God sê self in Sy Woord dat Hy sal sorg – nie dat daar dan ‘n verwagting van ons kant af moet wees nie, dan moet ons maar los. Mens moet nooit gee om iets terug te verwag nie.

Drikus Kotze ·

Kan iemand my sê hoeveel kom die “keiser” – regering toe? Want voor ek nog ‘n sent kan bestee, en as gevolg van my sondigheid in die verkeerde volgorde, vat die regering dat dit seer maak. Hier teenoor vra God dat ek ‘n blymoedige gewer behoort te wees, – God het nie ‘n welbehae in my offers as dit my seer maak – dit moet eerstens gaan oor my liefde vir God en my naaste. Maar toon die regering van die dag naaste liefde teenoor my?

OWO ·

@ Drikus Kotze.Ek dink ‘n mens moet onderskei tussen Regerings belasting en blymoedige gewer.Laasgenoemde hoef nie noodwendig geld te wees nie.God het nie ons geld nodig nie.Dit kan enige iets wees.Jou tyd,aandag,goeie dade,oor om te luister of enige iets goeds.
Wat belasting en die Regering betref:lees eers Rom 13:1-7
Wat ek wel kan sê is dat wanneer bv die Regering van ons Burgers gehoorsaamheid vereis wat ongehoorsaamheid aan God behels, mag en moet ons ongehoorsaam wees.As mense bv korrupsie goedpraat en van ons verwag om mee te doen,het ons ‘n keuse.Sterkte.

Drikus Kotze ·

So in praktyk gebeur dit nie so nie. Die heel eerste ding wat gebeur is dat die regering belasting van jou inkomste verhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.