Gedagte vir die dag: Moed

reenboog-dor-landskap-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie. (Handelinge 4:19-20)

Die Joodse Raad het voor ’n dilemma gestaan. Hulle het geweet hulle het Jesus laat ombring deur Pilatus te misbruik. Hulle het ook moeilikheid sien kom wanneer dit kom. En ’n mengsel van skuld en ’n gevoel van selfgeregtigheid skep ’n uiters gevaarlike vyandigheid by die een wat gekonfronteer word. Dit geld juis vandag ook.

Die raadslede het geweet ’n plofbare situasie was aan die ontstaan. Hulle was ook bewus dat hierdie “ongeleerde en eenvoudige manne” (v. 13) besig was om iewers hulle gesag aan te tas. Petrus-hulle sê duidelik: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat nie.” Hierop het die raad (wyslik) besluit om hulle, sowel as die bedelaar wat gesond geword het, te laat gaan. Om aan hulle te vat sou wees om met vuur te speel voor die skare wat God geprys het.

God kry altyd ’n getuie. In groot omstandighede en in kleineres. Eeue later sou dieselfde tipe gebeure voor die imperiale kongres van Worms afspeel toe ’n 34-jarige monnik Martin Luther voor die keiser Karel V geroep is oor sy “onrusstokery” teen die pous. Op die eerste dag het dit gelyk of hy, oorweldig deur die keiser en prinse, aan die weifel was. Op die tweede dag het hy eerbiedig gesê: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie. God help my.” Die vet van die Hervorming was in die vuur.

Een of ander tyd in ons lewe staan elkeen van ons alleen. As ons saak reg is, sal die Gees van God ons bystaan. In elke krisis bid ’n mens om kalmte. God sal die leiding gee, ook wanneer ons voor groot siekte en dood of ’n moderne “Joodse Raad” staan.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.