Gedagte vir die dag: Moeder Teresa

 bejaarde-hande.jpg

Argieffoto

Lees: Matteus 19:29

En elkeen wat ‘n huis om my ontwil opgegee het, of broers of susters of ‘n pa of ‘n ma of kinders of grond – hy sal honderd maal soveel terugontvang en boonop die ewige lewe verkry.  (Matteus 19:29)

Moeder Teresa word wêreldwyd vereer vir haar versorging van die armes. As ’n mens navorsing doen oor haar lewe, is dit baie interessant om te ontdek dat sy reeds op 12-jarige ouderdom ’n duidelike roeping ontvang het om vir die Here te gaan werk. Sy het haar ouerhuis op 18 verlaat en by die kerk aangesluit. Sy het haar ma en suster daarna nooit weer gesien nie. Moeder Teresa het alles opgegee vir haar Goddelike roeping en haar lewe gewy aan armes in Indië.

As ’n mens betrokke is by uitreike na armes, leer jy baie gou dit is nie die uitdeel van kos of klere wat saak maak nie. Nee, wat werklik saak maak, is die glimlag, die geselsie of die aanraking. Armes word van soveel dinge ontneem waarvan die groot ste seker hulle trots en menswaardigheid is.

By ’n ouetehuis waarby ons die afgelope jare betrokke is, is dit oneindig hartseer om die mense se behoeftes te sien. Hulle is so verskriklik dankbaar vir die kos, maar sodra die pakkie neergesit is, kom die versoek: Wil jy nie ’n oomblik sit nie? Of kan ek vir jou tee maak? Die behoefte aan erkenning, ’n geselsie of selfs aanraking laat jou hart in stukke breek.

In ons teksgedeelte lees ons die Here sê as jy afsien van geld of grond of selfs familie, sal jy soveel meer ontvang. Dit is so maklik om net geld te gee, maar ’n stukkie van jou tyd – dit is wat werklik saak maak. Dien vir ’n slag met jou tyd. Jy sal so verbaas wees oor wat met jou gebeur. Die liefde en vreugde wat jy sal beleef as jy van jou tyd gee, sal jou verstom. Vertrou op die Here, gee met vreugde en kyk wat gebeur!

Here, maak my tyd beskikbaar vir U, want dan sal my beursie en hart ook oop wees vir U. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sam ·

Sy was ‘n katoliek.

Katolieke is nie Christene nie, ons aanbid nie dieselfde Vader nie – ons mag haar nie vereer nie, anders het ons deel aan hul afgodery (hul aanbid beelde).

Godsdiens van die tyd is lank nie meer volgens voorskrif van die Woord nie … daarom dat die wêreld in al haar glorie val.

Gebruik eerder as voorbeeld van goeddoen die laaste gedeelte van Matt. 25 waar ons Verlosser self die voorbeeld stel.

Johan Grobler ·

Goeie dade red geen mens nie, al doen jy soveel daarvan soos moeder Theresa. Bybel leer ons beste werke is soos ‘n vuil kleed voor Hom. Om gered to word moes sy tot bekering kom en weergebore word deur geloof in Jesus Christus. Talle van haar uitsprake wys dat sy nooit tot daardie reddende geloof gekom het nie.

Elize C ·

Mens moet SO versigtig wees om te wil besluit wie is volgens ons “gered” en wie nie. Niemand van ons weet wat is enigiemand se verhouding met God nie, of laat ek eerder Sê: wat is God se verhouding met daardie persoon nie. Net God weet hoekom daardie persoon is en dink soos wat hy doen, net God ken die omstandighede, en daarvolgens sal Hy oordeel. My dogter het hierdie uiters suksesvolle, eerlike, goed gemanierde man met die sagste en mededeelsaamste hart, geken, wie altyd beskikbaar was om sy medemens te help, maar het dadelik ‘n moontlike romantiese verhouding met hom in die kiem gesmoor toe hy vir haar sê dat hy ‘n ateis is, agv iets wat in sy kinderjare gebeur het. Hy het vir haar gesê sy sal hom nooit anders kan oortuig nie, en sy het nie kans gesien om saam met iemand te leef wie nie haar geloof deel nie. Sy was mal van bekommernis toe hy oorlede is, omdat sy gevrees het wat het nou van sy siel geword, hy het dan nie in God geglo nie? My antwoord aan haar was: God alleen weet wat in sy hart aangegaan het, en hoekom hy besluit het om ‘n ateis te word, God alleen weet hoe Hy in Sy almagtige genade sal oordeel, ver bo ons aardse mensies se verstand-vermoë. Wat gebeur met ‘n mens wat in die gramadoelas woon, en niks eers weet van God nie, gaan hy nou maar net hel toe?

Anna ·

Liewe Sam en Johan, al is die Katolieke dan nou nie “christene” nie, God het hulle ook lief, net soos die Moslems, Hindus, Boediste. Die boodskap is dat jy, as mens en christen jou liefde en tyd moet gee. Ons het n bediening om met armes, straatmense en bejaardes te werk. Die feit dat jy stilstaan en sonder oordeel na daardie persoon luister, hom/haar aanraak en in die oë kyk en met oortuiging sê “God het jou lief, ongeag wat of wie jou is” maak soms die verskil om daardie persoon in die Koningkryk van God in te bring. Hou op oordeel wat doen ander gelowe / seksuele oortuigings en leef die Liefde van Jesus uit in jou daaglikse lewe. Die oordeel kom ons nie toe nie. Elkeen sal deur God geoordeel word. Sy opdrag aan ons was om mekaar lief te hê soos onsself. Christus- liefde groete.

Mich ·

Johan Grobler, so jy sê nou vir ons dat al God se geliefde profete
(soos bv. Abraham en Moses) in die Bybel
(wat lank voor Jesus gebore is),veroordeel is omdat hul nie wedergebore in Christus is nie? Ek weier om dit te glo.
Luister dieper na wat Anna sê. Jesus het almal omarm. Ongeag omstandighede en statuur.

Elize Botha ·

Aan almal wat hierbo so uit uitgesproke is oor die Katolieke wat nie “christene” is nie… Ek kan amper nie glo wat ek lees nie! Die Woord se dat die maat waarmee jy oordeel sal jy mee geoordeel word! Dis n absolute skande dat Suid – Afrikaners wat hulself Christene noem so blatant oordeel op hierdie forum. En dit terwyl Suid Afrika en ons volk in so n krises is en ons ALMAL ons harte moet SKOONHOU van oordeel,en alle bewuste sonde sodat God ons gebede kan verhoor vir alles wat in ons land verkeerd gaan en die aanslag op die Afrikaner. Dis tyd dat ons ALMAL ons harte ondersoek en Die Heilige Gees vra om vir elkeen persoonlik te WYS hoe lyk ons binne …. Maak nie saak WAT die situasie is nie… God ken en weet alles, Hy oordeel reg of verkeerd. Dit is NIE ons plek nie. Kom ons maak ERNS om ons lewens voor die Here reg te kry, Soos Korinthiers 13 se: “…Die Liefde bedek ALLES” en ” die grootste hiervan is die Liefde” Kom ons fokus op ‘n Jesus – gesindheid van liefde teenoor ons naaste … ongeag wie of wat hy of sy is. Dit beteken ook dat jy liefs nie oordeel nie bloot omdat jy nie GOD is wat alles ken en weet nie. Dit is n daaglikse besluit wat ons almal moet neem om te leef soos Christus verwag van Sy kinders.

Hannes ·

Aan die gene wat dink jy kan verlos word deur jou eie geloof die volgende; n Mens word slegs gered deur jou geloof in Jesus Christus en nie deur jou eie toedoen ( werke) nie maar op grond van God se genade. Abraham en die profete het ondet die wet van God gestaan en sal daarvolgens beoordeel word
Jesus was egter die vervulling van die wet . Ons staan nie meer onder die wet nie maar die wet (God se liefdes gebod) is binne in ons en uit dankbaarheid dat ons reeds gered is probeer ons dit onderhou. Ons kan egter nie omdat ons tot niks instaat is uit ons self nie. Glo dus dat Jesus jou verlosser is en dank God vir sy genade . Werke , hoe goed ook al kan jou nie red nie !

Stompie van As ·

God het sy kinders op n ander manier lief. God laat die son oor almal skyn en skenk aan almal sy Vaderlike liefde. God haat egter die sonde. As jy dus nie glo dat Jesus die ENIGSTE weg en waarheid is nie sal jy nie gered word nie al is jy hoe n goeie mens.

Sam ·

Waar is die smal weg wat na die ewigheid lei, as almal daarop is? Daar is min wat dit bewandel. Dus is dit almal nie beskore nie.

Daar is ‘n groot verskil tussen oordeel en die eis van die Woord, en dis slegs as mens tot kennis van die waarheid kom, dat jy kan onderskeid maak.

Wat sou Joh 8:44 dan beteken? Dat almal gered kon word? Nee. Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n Christen, ‘n gelowige en ‘n geredde.

Ons mag nie met afgodsdienaars asnbid nie. Katolieke en Mohammedane en diesulkes is afgodsdienaars. Dis nie ‘n oordeel nie, dis ‘n feit.

Ek daag enigeen uit wat hul Bybel van Genesis tot Openbaring ken, om my die teendeel te bewys … nie vanuit die dogmatiek nie, vanuit die Woord.

Chelle ·

Sam,Daar bestaan nie iets soos ‘n Mohammedaan nie. Dis ‘n miskonsepsie.
Muslims aanbid NIE die Profeet Muhammad nie. Hul aanbid Allah. Terloops,Allah is die Arabiese naam vir GOD. Arabiese CHRISTENE bid tot ALLAH. Dit beteken GOD. Dis die Arabiese taal.
Terloops,ek is ‘n Christen wat baie Lief is vir Jesus en wat die moeite doen om ander gelowe en kulture te probeer verstaan en akkommodeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.