Gedagte vir die dag: Moenie bang en moedeloos wees nie

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

En nou het die Here gedoen wat Hy beloof het, want ek het koning geword oor Israel in die plek van my pa. Dis tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel, dat ek hierdie tempel gebou het. (2 Kronieke 6:10)

Koning Salomo het hierdie lofgebed met die inwyding van die tempel gebid.

God het sy belofte nagekom, net soos Dawid gesê het Hy sou toe hy vir Salomo gesê het: “Wees sterk en vol moed, en doen die werk. Moenie bang wees of moedeloos word oor die groot werk nie. Want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Hy sal toesien dat jy al die werk aan die tempel van die Here sal voltooi” (1 Kron. 28:20).

Salomo het sy deel gedoen om hierdie taak te voltooi. Hy was sterk en dapper en het hard gewerk, maar die uitkoms het nie regtig van sy krag afgehang nie. Dit het afgehang van God se krag – en God het sy belofte nagekom. God se verbondsbeloftes sluit ’n geheimenisvolle kombinasie van sy werk en ons werk in. God waarborg sy beloftes. Hy laat dit waar word; dit kan nie onvervul bly nie. God se beloftes hang van God af, nie van ons nie. Maar Hy nooi ons om saam met Hom te werk. Hy beloon ons met betekenisvolle en doelgerigte take wat moed en toewyding van ons kant af verg.

Dit is so inspirerend en verblydend om deel van God se werk te kan wees. Watter taak moet jy vandag aanpak wat tot voordeel van God se koninkryk sal wees? Pak dit met moed aan, en met dankbaarheid dat die uitkoms daarvan in God se hande is.

Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys! – Matteus 5:16

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.