Gedagte vir die dag: Moenie bang wees nie!

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou.” (Jesaja 41:13)

My skoonsuster het dit aan my bekend gestel; sy het dit “katastrofiseer” genoem – en bygevoeg dat sy ’n meester daarvan was. Sy kon haar dood bekommer, het sy vertel. Oor alles. En sy kon haar die allervreeslikste dinge verbeel. Watter ellende daar ook al op die loer mag wees, sy was vas daarvan oortuig dat dit met haar of haar kinders of haar man sou gebeur. Ja, volgens haar eie getuienis was sy knaend aan’t “katastrofiseer”.

Dalk is ons nie almal kommerkouse soos sy nie; tog huisves die meeste van ons ’n goeie skeut vrees binne-in ons. Soms is dit die soort vrese wat ons beskerm, ja, maar straks is daar ook vrese by ons teenwoordig wat nie heeltemal sin maak nie.

Dalk rus daar iets nóg ergers op ons skouers: Ons dra vrese rond waarmee ons al “vrede” gemaak het omdat dit so lank deel van ons denkpatroon is. Ons leef maar daarmee saam. Dit het as ’t ware reeds deel van ons persoonlikheid geword …

Sulke vrese is egter nie God se wil vir ons lewe nie. Vrees laat dankbaarheid onmoontlik voel, en in sy liefde gee Hy ons die moed om met vrees af te reken.

Ons lees meer as 30 keer in die Bybel hoe God aan mense sê: “Moenie bang wees nie!” En die woorde wat dit gewoonlik vergesel, klink telkens omtrent só:

“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou.”

“Moenie bang wees nie, want Ek beskerm jou.”

“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou, oral waar jy gaan.”

“Moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas. Met my eie hand red Ek jou. Ek help jou. Ek verlos jou. Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”

“(D)ie Here jou God gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie. Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red.”

Oor en oor stel God ons in sy troue liefde gerus: Ons hoef nie bang te wees nie. Ons hoef op geen manier bang of bekommerd te wees nie, al lyk die gevaar ook hóé werklik.

Gryp tog hierdie beloftes aan met al die dankbaarheid wat jy in jou hart kan opwek! Dit sal jou lewe vir altyd verander. Ruk daardie vrees-jas áf wat jou so knel. Klee jou dan met al die beloftes uit God se Woord. Soos dié een in Jesaja 41:13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou.”

Here, dankie dat U by my is. Ek het niks om voor bang te wees nie.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.