Gedagte vir die dag: Moenie eiewys wees nie

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Moenie eiewys wees nie. (Rom 12:16)

Vir mense wat eiewys is, is dit baie moeilik om hulleself in die skoene van ander mense te plaas, omdat hulle in hulle eie oë altyd die beste weet.

Die wysheid waarvan die Bybel praat, staan direk teenoor eiewysheid. Hierdie wysheid beteken dat God iemand help om tussen reg en verkeerd te onderskei. Jakobus vra: “Is daar ’n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig” (Jak. 3:13). Hy gaan voort deur te verduidelik presies wat hierdie wysheid behels: “Die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye, onpartydig, opreg” (v. 17).

Hoe lyk dit met jou? Dink jy nie dalk ook dat jy altyd die beste weet, dat jy al die wysheid in pag het nie? Onthou altyd dat alle mense feilbaar is en gereeld foute maak. Jy ook! Wees in die toekoms bereid om na ander te luister en te erken dat jy verkeerd kan wees. Erken en bid om God se wysheid in jou lewe. Dink na oor die verse hierbo en vra vir God om vir jou sy wysheid te ruil in die plek van jou eiewysheid.

Here Jesus, vergewe my dat ek so geneig is om te dink dat ek alleen reg is. Gee my asseblief die wysheid wat van U kom en help my om ander mense ook ’n kans te gee. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.