Gedagte vir die dag: Moenie God miskyk nie

Foto: Deon Kotze

En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe. (Hebreërs 10:38-39)

’n Onbekende skrywer het die volgende stuk geskryf, dit het my aangegryp:

Toe sing daar ’n lewerik
Die kind het gefluister: Here, praat met my!
Toe sing daar ’n lewerik. Maar die kind het nie gehoor nie.
Daarom het die kind uitgeroep: Here, praat met my! Toe rommel die donderweer in die lug. Maar die kind het nie geluister nie.
Die kind het rondgekyk en gesê: Here, laat my U tog sien? Toe skyn een van die sterre skitterblink. Maar die kind het nie opgelet nie.
Daarom het die kind geskreeu: ‘Here, wys my ’n wonderwerk! Toe word daar ’n nuwe lewetjie gebore. Maar die kind het dit nie verstaan nie.
Daarom het die kind moedeloos gesmeek: Here, raak aan my sodat ek kan weet U is hier! Toe steek God sy hand uit en streel die kind. Maar die kind het die skoenlapper weggejaag. En weggestap sonder om te besef wat gebeur het.

Hoe dikwels kyk ek en jy God nie ook maar op die manier in ons lewe mis en sien ons eenvoudig nie sy werk in ons wêreld raak nie? God is ons Pa wat vir ons omgee, Hy wil graag in ons behoeftes voorsien. As dit egter met ons swaar gaan twyfel ons gou in sy bestaan en raak moedeloos en wil tou opgooi.

Die skrywer van Hebreërs beklemtoon: al gaan dit moeilik, moet ons in geloof volhard. In slegte tye moet ons terugkyk én vorentoe kyk. Ons moet ons aan die wonderlike werk herinner wat God in die verlede vir ons gedoen het – hoe Hy daar vir ons was en dit sal ons hoop gee en die wete dat Hy ook in die toekoms daar sal wees. Hy is steeds in beheer. Ons mag nie ons geloofsvertroue prysgee nie. Ons moet bly volhard in geloof.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann Smith ·

Dankie Here dat ons slegs deur genade gered kan word. U het reeds die prys betaal. Ons hoef niks te doen nie maar moet slegs glo dat U in beheer is. Sonder geloof beteken dit niks en selfs geloof is ‘n gawe van God wat ons net moet aan neem.

Lena Jonk ·

Ja mense almal van ons moet bid ons God is ALTYD daar vir ons, Laat ons die wedloop voltooi en die wenstreep behaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.