Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. (Efesiërs 4:31)
Konflik is deel van die lewe. Misverstande sal plaasvind. Dit is waarom grense so belangrik is – daarsonder gaan reg en geregtigheid ten gronde. Hierdie waarheid is van toepassing op die gesinseenheid, in die sakewêreld, op die plaas en selfs in die politiek.
Ons moet besef dat daar owerhede is en dat ons hulle moet gehoorsaam. Ons respekteer dalk nie die persoon nie, maar ons moet die amp wat hy of sy verteenwoordig, gehoorsaam. In die gesin moet daar ook wedersydse respek wees om saam in harmonie te leef. Chaos spruit voort weens ’n gebrek aan respek.
Dit bring my terug na ’n onderwerp wat my na aan die hart lê: gebed. Die gesin wat saambid, bly ’n eenheid en ek glo gebed soggens voor werk is noodsaaklik vir harmonie in die werkplek. In my besigheid bid en lees ons elke dag uit die Bybel en dit skep ’n gesonde gesindheid by die personeel en bestuur.
Dieselfde is tuis van toepassing. Die Bybel sê: “Moenie tot die aand toe kwaad bly nie” (Efesiërs 4:26). Daar behoort geen suur gesigte te wees wanneer ’n gesin saans inkruip nie. Die lewe is kort en jy weet nie of jy nog ’n dag op die aarde gaan hê nie; so moenie tyd mors nie!
Konflik word altyd deur konfrontasie opgelos, al is dit ook onaangenaam. Jy moet die probleem aanroer en daaroor praat. Kommunikeer – praat met jou huweliksmaat, kind of kollega en kom by die kern van die probleem uit. Moenie toelaat dat dinge prut en later handuit ruk nie. Sodra julle dinge deurgepraat het, sal julle sien dat daar geen probleem te groot is vir God om te hanteer nie.
Dierbare Jesus, dis glad nie lekker om konflik te hanteer nie, maar ek weet hoe noodsaaklik dit is om ’n probleem te hanteer voordat dit handuit ruk. Help my asseblief om proaktief te wees en misverstande of probleme by die huis of werk te hanteer. Amen.