Gedagte vir die dag: Moenie jou bydrae geringskat nie

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het … laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. (Romeine 12:6-7)

Daar is ’n ware verhaal van ’n jong seun wat op ’n klein dorpie in die VSA grootgeword het. Hy het hom voorgeneem sodra hy sy laaste matriekvraestel skryf, skoert hy uit die verkrampte plekkie. Sy pa was predikant op die dorp.

Toe die seun sy matriek voltooi het, het hy nie op hom laat wag nie. Hy is die wye wêreld in en binne ’n paar jaar het hy hom opgewerk as een van die suksesvolste sakemanne in Amerika.

Reeds in sy veertigerjare is hy beskou as een van die rykste mense in die VSA en daar het vele artikels oor hom in sake-tydskrifte verskyn. Toe kom die hartseernuus dat sy pa oorlede is. Hy was verslae en het dadelik in sy private vliegtuig na die minderwaardige dorp gevlieg waar hy grootgeword het. Dit was die eerste keer in jare dat hy weer daar gekom het.

Toe hy met sy lang slap motor deur die enigste hoofstraat in die dorp ry, kom hy agter dat die Chinese groentewinkel vir die dag gesluit is, so ook die hardewarewinkel en elke ander winkel op die dorp. Die hele plek het tot stilstand gekom vir die begrafnis van sy geliefde pa. Meteens het hy besef watter groot impak sy pa op elke mens in daardie dorp gehad het. Hy het besef hy het ten onregte gedink dat sy pa nie dryfkrag of ambisie gehad het nie omdat hy ’n predikant op dié klein plekkie was.

Hierdie ware verhaal het my laat besef dat God met ons elkeen ’n plan het en dat ons ’n verskil kan maak waar ons ook al in die wêreld is. Dalk dink jy die gemeente of dorp waar jy jou Godgegewe talente uitleef is darem bitter klein en jy maak nie regtig ’n verskil daar nie. God weet egter daardie mense het jou nou nodig en daar is vir seker ’n doel waarom jy op hierdie tydstip daar is. Natuurlik kan God later vir jou ’n ander deur oopmaak, maar moenie jou bydrae geringskat nie, as dit een mens se lewe verander is dit die moeite werd.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mark ·

Ek wonder somtyds wat God se plan is wanneer ons op ‘n sekere tyd op ‘n sekere plek in ons lewe is. Hoekom sekere mense in ons lewens moet wees . Hoekom ongelukke met ons gebeur en kinders sterf. Ek het wel geleer dat wat ek in my lewe deurgemaak het, goed of sleg, altyd na jare ‘n getuienis of bemoediging vir iemand anders kan wees. Daarom as ek vandag deur iets gaan, gaan ek na my Vader en verwerk dit soos Sy Gees my lei, so kan ek more ander op dieselfde manier lei.

Sarie ·

Ek is al so moedeloos… Here verhoor asb my gebede, maak asb vir my deure oop sodat ek uit my armoede kan op staan en gee asb vir my mense wat my kan ondersteun, asb Here..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.