Gedagte vir die dag: Moenie jou lewe uitstel nie

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

… sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6:1-2)

Daar is ’n ware verhaal van ’n seun wat oor die radio gehoor het dat ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie ’n beroep op mense doen om bydraes te gee sodat hulle vir minderbevoorregte kinders Kersgeskenke kan koop. Die seun het sy spaargeld bymekaargeskraap en kon slegs ’n skamele R5 vir die organisasie gee. Hy moes ’n baie lang en stowwerige pad stap om die geld te gaan afgee en was pootuit toe hy by die kantoor aankom. Toe hy die geld aan die welsynswerker oorhandig, moes hy sy emosies kwaai onderdruk. Hy was immers een van die armstes van die armste. Hy was self op die lys om ’n Kersgeskenk van die liefdadigheidsorganisasie te ontvang.

Met Kersfees gee ons geskenke vir mekaar wat ons aan die grootste Geskenk van alle tye moet herinner wat deur God aan die mens gegee is, naamlik Jesus Christus. In Jesus bied God verlossing aan alle mense. Ons moet daardie verlossing ons eie maak deur Christus as ons eie aan te neem – het jy Hom al in jou lewe ontvang? Soms stel ons dié uiters belangrike besluit uit omdat ons dink dit sal later ’n “beter tyd” wees om so ’n besluit te neem. Die moontlikheid bestaan egter dat ons nooit weer so ’n geleentheid sal kry nie. Nou is die heel beste tyd om God se vergifnis te aanvaar. Ons mag nie toelaat dat enigiets ons van Hom af weghou nie. Billy Graham het gesê: “Daar is geen dringender of meer kritieke saak in die lewe as dié van jou persoonlike verhouding met God en jou ewige verlossing nie.”

Iemand het eenkeer gesê : “Verlossing is so eenvoudig dat ons die gevaar loop om dit nie raak te sien nie, dit is so ingewikkeld dat ons dit nooit sal verstaan nie.” Wanneer jy uitstel om Christus as Verlosser in jou lewe te aanvaar, stel jy in werklikheid jou lewe uit.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Ek stem heelhartig saam. Dit is een van die eenvoudigste en maklikste keuses met die mees ingrypendste gevolge wat jy as mens kan maak. As jy dit gemaak het verander jou lewe ten volle, maar die pad is nie maklik nie. As jy dink dat jy as gelowige dit maklik gaan hê, maak jy ‘n groot fout. As jy nie glo dat Jesus Christus jou Verlosser is nie, moet jy nie besluit om een dag te sterwe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.