Gedagte vir die dag: Moenie karakter en talente verwar nie

Arend_Stiltetyd.jpg

Foto: Jannie Oosthuizen

Dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie. (Jesaja 40:31)

Karakter en talente groei nie noodwendig saam nie. Nêrens veronderstel die Bybel dat die talentvolste mense ook mense van groot karakter is nie. Talente word deur God uitgedeel aan mense soos wat Hy dit goeddink, maar die verantwoordelikheid rus op ons elkeen om ons karakter hiermee saam te groei in sy teenwoordigheid. So nie, gaan ons daardie paar talente wat die Here aan ons gegee het, misbruik tot ons eie voordeel. Of ons talente nou is om te sing, te skryf, uit te blink op sportgebied, of dalk een of ander tegniese vaardigheid – dit moet altyd deur ’n nederige en dienende karakter begelei word. Karaktergroei vereis dat ons tyd saam met die Here deurbring. Gebed, Bybelstudie en tyd vir refleksie is lewensbelangrik. Ook moet ons ons met mense omring wat ons kan leer hoe om met wysheid te leef.

Karaktergroei is iets wat die Here in ons lewe doen, maar ons moet van ons kant af sorg dat ons altyd in sy nabyheid is. Karaktergroei voor God is wanneer ons minder na ander mense se foute kyk en meer na ons eie groei. Ons is deur die lewe geleer om makliker ander mense se gebreke raak te sien as ons eie. Ander se sondes is boonop elke slag morele gebreke. Ons eie? Wel, hulle is maar net “gewone” foute. Mense verstaan ons net verkeerd. Dit is hoekom Jesus gesê het ons moet eers die hout stomp uit ons oog haal voordat ons ander mense se foute uit snuffel. Ja, ons mag en moet mekaar vermaan as ons afwyk van die Here se pad. Maar ons mag nooit ophou bid dat die Here ons blindekolle vir ons sal uitwys en dat ons dit dan sal aanspreek in die Here se Naam nie.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.