Gedagte vir die dag: Moenie mismoedig raak nie

man-veld-boom-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. (Hebreërs 12:3)

Wanneer ons toelaat dat ons belas word met die sorge van die lewe, kan dit ons diskwalifiseer om ons roeping as ’n wag op die muur te vervul. Ons kan so mismoedig en belas word, dat ons ons vreugde verloor. Wanneer dit gebeur, word ons afgestomp en is ons nie waaksaam as die vyand naderkom nie. Een van sy geliefkoosde taktieke is om die heiliges te ontmoedig en af te skrik. Voel jy vandag mismoedig en neerslagtig? Spandeer jy meer tyd om na dinge om jou te kyk as na Jesus? Hebreërs 12:2 sê: “ … die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

Jesus is ons voorbeeld. Hy het nie toegelaat dat enigiets sy aandag aftrek van sy roeping nie. Hy het sy hemelse Vader ten volle vertrou. Hy het onvoorwaardelik geglo dat sy Vader Hom deur elke beproewing sou help. Dit was as gevolg van hierdie onwrikbare geloof dat Hy sy sterwe aan die kruis op Golgota kon deursien. Ons word geroep om bo ons omstandighede uit te styg. Jy kan nie bekostig om afgetrek te word deur die dinge wat om jou gebeur nie. Hou jou oë op Jesus – Hy is

die Leidsman en Voleinder van jou geloof. Dit is wat ons onderskei van ander. Mense moet na ons lewens kyk en sien hoe ons moeilike omstandighede hanteer. Dit sal hulle na Jesus toe trek. Dit gee ons die reg om inspraak in ander se lewens te lewer.

Een van die wonderlike gawes wat ons die wêreld kan bied, is hoop. Hoop in Jesus Christus. Hoop op ’n beter lewe, hoop op die ewige lewe. Dit is die kosbare waarheid wat jy met die mense om jou kan deel.

Vader, ek kom na U toe in die kosbare Naam van Jesus Christus, my Heer en Verlosser. Jesus, ek dank U dat U my hoop op die heerlikheid is. U is die Een na wie toe ek kan draai ongeag wat in my lewe gebeur. Help my om die hoop wat ek in U het met almal om my te deel. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.