Gedagte vir die dag: Moenie moeg raak nie

arend_vlieg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. (Jesaja 40:31)

Oswald Chambers sê geloof is nie net om op te vaar met vlerke soos arende nie. Dit is ook om te loop en nie moeg te word nie. Geloof moet voete hê. Geloof is ’n “werk”-woord. Dit is ’n woord van aksie. Geloof gaan nie oor dramatiese gebeure of emosies nie. Geloof sê: “Here, ek het U lief en ek sal volhard. Ek sal volhard deur die rowwe gedeeltes en ek sal deur die woestyn stap. Ek sal nie opgee nie al gaan dit swaar, want ek glo in U en wat U vir my wil gee.” As dit jou gesindheid is, sal die dag kom dat jy uit die woestyn sal stap in die land van melk en heuning in, net soos die Israeliete gedoen het.

Geloof is nie ’n gevoel nie, dit is ’n feit. 2 Korintiërs 5:7 sê: “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” Daar is ’n klomp vals leringe in hierdie verband wat hul pad na die kerk gevind het. Ongelukkig is daar mense wat sê: “Kom na Jesus en al jou probleme sal verdwyn.” Nêrens in die Bybel word dit gesê nie. As jy onvoorwaardelik na Jesus toe kom, sal Hy saam met jou deur die vuur loop. Dit is hoekom so baie mense ontnugter word; hulle glo ’n leuen. Hulle sê: “Ek het God gevra en Hy het my nie gegee waarvoor ek gevra het nie.” Waarvoor het jy God gevra?

1 Johannes 5:14-15 sê: “Dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” Dit is die geheim. Ons moet vra in ooreenstemming met God se wil – nie volgens óns begeertes nie. Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, God sal ons die krag gee om te volhard. “Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Dit is sy belofte aan ons, dit is hoekom ons nie moeg en afgemat moet word nie.

My Vader, daar is tye dat ek so moeg raak. Ek weet dat ek die krag om te volhard aan die voet van die kruis sal vind. Dit is daar waar ek my wil moet neerlê. Dit is daar waar ek u wil vir die situasie waarin ek myself bevind, sal vind. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Amen

Leer my U wil dat ek wéét wat ek vra volgens U wil vir my is.
Amen

Yvonne ·

Here by U is my lewe blootgestel…net U en U alleen kan my verlos van hoogmoed en ongeloof ..dankie Here

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.