Gedagte vir die dag:  Moenie my los nie!

 karoo_vlakte_stiltetyd.jpeg

Foto: Annelize Brits

Lees Lukas 4:42-44

Die mense het Hom … probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. (Lukas 4:42)

Dit is nog vroeg in Jesus van Nasaret se bediening en Hy maak groot indruk. Soms gee Hy ’n rukkie pad. Gaan rus Hy op ’n eenkantplek.

Maar die mense spoor Hom op. Bewonderaars laat hulle nie so maklik afskud nie …

Hulle wil nie laat los nie. Ook maar mens: As daar iets (of Iemand) is wat tot hul heil en beswil is, hou hulle wat hulle het.

Maar hier werk dit nie so nie; nie met Jesus nie. Hy laat Hom nie sommer vashou nie; sy werk is omvangryker as wat jy mag dink. Die trop vir wie Hy sorg, is groter as wat jy ooit kan vermoed. Hý is dus die Vashouer. Die Opsoeker. Opteller. Terugdraer.

Ook maar goed so. Want, sou ons later verneem, dié wat Hom so graag by en vir hulleself wou hou, het Hom uiteindelik gelos. Toe dinge té ingewikkeld raak en opofferings van hulle gevra is, het hulle padgegee.

Soos dit maar met mense is, weeg eiebelang verreweg die swaar- ste wanneer jy voor keuses te staan kom. En dan draai jy om en loop weg, dalk ook “diep teleurgesteld” soos die ryk jongman (vgl. Luk 18:23). Of vloekend, soos Petrus (vgl. Mark 14:71). Was jy jou hande in kamma-onskuld en met groot gebaar, soos Pilatus (vgl. Matt 27:24).

Maar, wegloper, jy moet weet dat jy nie baie ver gaan kom nie. Hy gaan jou agternasit, Hy sal jou opspoor en jou uit die gat haal waarin jy beland het. Hy sal afbuk en jou daar optel en terugdra na sy trop. Daar waar jy hoort.

Ek het niemand behalwe U nie. Ek kan nêrens heen as U my nie lei nie. Hou my vas, Here!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Von

Dankie Here Jesus dat ek veilig by U kan rus as die lewenstorms woedend om my slaan. U is die Alpha en die Omega

Strandloper

Amen

Bertie

Dankie Here, dat U belowe om ons NOOIT te begewe, OF verlaat nie!
Dankie Maroela, vir die Woord – dit slaan vas.

Petra

Ons Vader sal ons lei en ons op die regte pad stuur. Amen.

Jan Seerot

Hier waar ons nou is, het ons dit so nodig. Dit is al wat ons het, en dit is al wat nodig is.