Gedagte vir die dag: Moenie stres oor nietighede nie

God-met-mag-oor-dood

Foto: Argief.

Lees: Matteus 6:25-34

Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg. (Matteus 6:33, NLV)

Baie van die dinge wat vir ons op die oomblik lewensbelangrik is, gaan heel waarskynlik oor tien jaar glad nie meer vir ons ’n prioriteit wees nie. Om hierdie rede is dit onnodig om te veel te stres oor dinge wat jy baie graag wil hê en nie kan bekom nie.

Toe ek jonger was, het ek ’n ellelange wenslysie gehad van dinge wat ek nog graag wou hê en graag wou doen. Noudat ek ouer is, wil ek nie een daarvan meer hê (of doen) nie! Hoe ouer ’n mens word, hoe minder belangrik raak dinge soos status, geld en besittings vir jou, en hoe belangriker raak die dinge wat ewigheidswaarde het.

Indien jy steeds stres oor ’n wenslys wat nie voltooi kan word nie, of wroeg omdat jy nie soos jou bure elke jaar ’n nuwe Duitse motor kan aanskaf nie, sal dit vir jou goed wees om in jou Bybel te gaan soek vir dié dinge wat werklik belangrik is. Jesus som dit vir jou op in sy Bergpreek. Gaan lees Matteus 5, 6 en 7 weer ’n keer noukeurig deur en fokus dan op die dinge wat vir God belangrik is. Jou stresvlakke gaan beslis daal wanneer jy weet dat jy nie jou tyd met onbenullighede verspeel nie.

Here, ek verknies my nog so baie oor onbelangrike dinge. Wys my watter dinge vir U prioriteite is en help my om daarop te konsentreer. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

neelsie ·

Vertrou ons Drie-enige God met ALLES.
Hy is getrou en belowe Hy sal Sy kinders help.
Sy genade is genoeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.