Gedagte vir die dag: Moenie twyfel, God maak jou bekwaam

viool_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. (1 Korintiërs 12:4-6)

’n Jaar of wat terug sit ek in my motor in druk verkeer op die snelweg op pad na ’n belangrike vergadering in Johannesburg en meteens kry ek ’n beklemming om my hart. Wat as die vergadering nie goed afloop nie, ek nie kundig genoeg oorkom nie en die veel ouer en gesoute besigheidsmanne vir wie ek die voorlegging moet doen, dink my werk is minderwaardig? Ek het begin twyfel in my vermoëns. Sê nou hulle trap my plat met allerhande argumente en dan is die vergadering nog boonop in Engels! Net daar in die verkeer begin ek kliphard en met oop oë bid – ek het God gevra om my rustig te maak en vir die vergadering toe te rus.

Daar het ’n kalmte oor my gekom en ek het opnuut besef God se Woord sê dat dit Hy is wat ons bekwaam maak – ek het my kant gebring en goed voorberei en nou moet ek God vir sukses vertrou. Die vergadering het baie goed afgeloop. Toe ek daardie middag terugry huis toe het ek opnuut bewus geword van die feit dat God vir ons geleenthede in die lewe gee. Ja, ons moet tot aksie oorgaan en dit aangryp, maar sonder sy hulp sal ons nooit ons volle potensiaal hier op aarde kan uit leef nie. Hy roep ons op tot sekere take, maar rus ons ook toe daarvoor. Herinner jou altyd hieraan wanneer jy enigsins begin twyfel aan jou vermoëns – dit is die kreatiewe Skepper van die heelal wat vir jou gawes, kundigheid en talente gee en daarom hoef jy geensins minderwaardig te voel nie.

Verder is een gawe nie “meer werd” of “beter” as ’n ander nie. Almal kom van die Heilige Gees af en die doel daarvan is om die kerk, die liggaam van Christus, op te bou. Al het ons verskillende talente van God ontvang, bly ons deur ons geloof in Christus ’n eenheid. Daarom mag ons nie hoogmoedig raak of minderwaardig voel wat ons gawes betref nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RHG ·

Aanvaar ook ander se beste wat hulle lewer. Het genade vir mekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.