Gedagte vir die dag: Moet jou nie laat losruk nie

see_rotse_hemel_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. (Kolossense 1:23)

Paulus begin sy brief aan die gelowiges in die stad Kolosse deur te sê hoe getrou hulle was wat hulle geestelike groei, kennis van en verhouding met God betref. Daarna gee hy hulle as’t ware ’n visioen van die heerlike majesteit en oppergesag van Christus. Alles in die hemel en op aarde, sê Paulus, is deur en vir Christus geskep; in Hom trek alle dinge saam; en deur die bloed van Christus het God alles in die hemel en op die aarde met Homself versoen.

Hierdie pragtige lofrede is egter meer as net ’n poëtiese opening vir die brief. Paulus vestig met opset die gemeente in Kolosse se aandag op die fokuspunt van hulle geloof: Jesus Christus. Hy doen dit omdat vals leerstellings besig was om die gemeente binne te sypel. In Kolosse is hierdie leringe later gnostisisme genoem. Dit is ’n term wat afgelei is van die Griekse woord gnosis (“kennis”), en beklemtoon dat net mense wat beskik oor ’n spesiale vorm van kennis (en dit was net bekombaar deur ’n mistieke inisiasie-ritueel) gered kon word. Gnostisisme het die Christelike geloof verdraai deur te ontken dat Christus God self en ons enigste Verlosser is, en deur te ontken dat almal wat in Jesus glo, gered sal word. Daarom was dit so noodsaaklik dat Paulus op die ware wese van Christus moes fokus.

Paulus se waarskuwing oor die suiwer Christelike leer geld vandag steeds. Moenie afdwaal van die hoop wat die evangelie in jou gewek het nie. As jy vashou aan die Woord van God, sal niemand jou kan losruk nie.

Hou jy vas aan die Rots van jou verlossing?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.