Gedagte vir die dag:  Moets en moenies

Lemoen_boom_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 7:1-6

Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God. (Romeine 7:4)

Dit is nogal iets vir gelowiges uit alle geslagte om te weet: Die ou bedeling se soort diens is verby; in die nuwe bedeling is die diens anders. In die ou bedeling, skryf Paulus, “het ons vrugte gedra in diens van die dood” (v. 5). “Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees …” (v. 6).

Terneerdrukkend en doods, teenoor opgewek en nuut. Wat ’n vreugde is hierdie huidige bedeling tog!

En, nee, dit is nie juis nuus nie; dit is ou nuus. Die ou-ou tyding, die boodskap van God se heil: Toe Jesus gekom het, het alles ver- ander. Radikaal. Die nuwe bedeling wat só aangebreek het, het niks minder gedoen nie as om die gelowiges van die ou bedeling te bevry. Jesus heet immers ook “Verlosser”.

Deur die eeue het dankbare gelowiges hierdie verlossing gereeld gevier. Christus se kerk maak ruim voorsiening vir dié soort viering – deur te sing en te bid, deur te eet en te drink. Deur mens te wees voor God se aangesig, volledig, verlos. En ons weet mos baie goed – prys Hom daarvoor! – waarvan ons verlos is.

Paulus help ons nou ook om te leer waartoe ons verlos is. Hoe die nuwe bedeling in verlostes se lewe moet lyk. Ja, “moet” (v. 4).

Dit is, aldus dié apostel-van-genade, ’n móét dat ons lewe vrug- baar verloop, in God se diens. Ons moenie toelaat dat ons vreugdefeeste ons tot ’n passiewe laat-maar-loop-houding verlei nie. Daar is wérk.

Werklike godsdiens is tog ’n diens. ’n Dankbaarheidsdiens, ja, maar uit beginsel een wat met opgerolde moue moet plaasvind. Met ’n dankbare hart wat voortdurend moet vra: “Wat wil U hê moet ek doen, Here?”

Hier is ek, Here, u verloste kind. Stuur my, wys my, gee my u opdragte.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen !

gary

Dankie Here vir alles. Amen.