Gedagte vir die dag: Mooiweersgeloof

Storm_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar. (Matteus 12:30)

Wanneer jy op die see is, is die veiligste plek om te wees op die diepste deel van die oseaan, weg van die kus en die rotse wat ’n skip flenters kan slaan. Die meeste matrose sal vir jou vertel dat hulle feitlik enige storm kan oorleef as die boot net op die diepste deel van die oseaan is. Dit is wanneer ’n skip se kaptein senuagtig raak en die kuslyn in sig wil kry dat die wind die skip teen die rotse sal dryf, en die skip en sy bemanning en sy vrag sal vergaan. Dit is wanneer die kaptein kies om die skip uit te neem na die diepsee wanneer die storm losbreek dat die skip heen en weer geslinger sal word, maar nie sal sink nie omdat daar nie rotse of voorwerpe is waarteen dit kan bots nie.

Die veiligste plek om te wees, is in die middel van die storm. Hulle sê in die middelpunt van ’n tornado is dit volkome kalm. Die verwoesting vind rondom hierdie middelpunt plaas.

Dit werk presies só in die lewe van ons as Christene. Wanneer die lewe glad verloop, hou ons een voet in die wêreld en die ander voet in die koninkryk van God, as dit enigsins moontlik is. Wanneer die spanning begin opbou of die storm begin broei, probeer ons egter twee meesters dien en kry op die ou end baie seer. Ek wil jou vandag aanmoedig om jou ten volle aan die Here toe te wy. Gee elke faset van jou lewe aan Hom oor met die wete dat Hy jou nie sal laat los of in die steek sal laat nie (Heb. 13:5).

Soms is die gevaarlikste plek vir ’n Christen om te wees ’n situasie wat te kalm is. Want dan bring ons nie genoeg tyd by die Here of in die gemeenskap van gelowiges deur nie; ons lees nie die Woord genoeg nie en dit is so maklik vir ons om terug te val na ons ou weë.

Voordat jy vandag uitgaan, belowe aan God dat jy nie ’n mooiweerschristen sal wees nie, maar dat jy God se kind sal wees, ongeag hoe groot die golwe is of hoe sterk die wind waai. Neem daardie besluit om uit te vaar na die diep waters, weg van die kus af.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.