Gedagte vir die dag: My naam is in sy boek

book-92571_1280.jpg

Foto: pixabay.com

Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. Hulle sal vir my ’n kosbare besitting wees diedag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. ( Maleagi 3:16–17)

Hy ken my naam. Dit staan in sy boek. Ek is sy kosbare besitting. Wanneer die boeke eendag oopgemaak word, sal my naam uitgeroep word en Hy sal weet wie ek is.

Het jy al deur ’n ou adresboekie of jou selfoon of rekenaar se adreslys gekyk en op name van mense afgekom wat jy met die beste wil ter wêreld nie kan onthou nie? Eens op ’n tyd was daardie persoon vir jou so belangrik dat jy sy naam, adres en telefoonnommer gevra en neergeskryf het. Maar nou lyk dit asof dit nie daar hoort nie. So is dit nie met ons Hemelse Vader nie. As jou naam eers in sy boek opgeskryf is, vergeet Hy jou nooit. Het Hy jou dan nie by die naam geroep nie?

Jy is een van sy verbondskinders, gedoop in die Naam van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Hy het sy heilige Naam op jou voor­hoof geskryf en deur sy kruisdood bevestig dat jy sy eiendom is. Die Protestantse Kerk het net twee sakramente: die doop en die Nagmaal. Die dag dat jy gedoop is en as verbondskind deel word van die geloofsgemeenskap, is ’n uitstaande en eenmalige gebeurtenis. Ons is Christene, gered deur sy dood en gedoop in sy waardige en heilige Naam. Geen mens mag sy Naam ydelik gebruik of as skeltaal oor hul lippe bring nie. Sy Naam moet met eerbied en respek uitgespreek word. Hy is die Here, die Almagtige.

Hemelvader, ek hoor hoe u Naam deur ander belaster word. Help my om te sê dat dit my seermaak en te getuig hoe lief ek U het en hoe dankbaar en trots ek is om u Naam op my voorkop te dra.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tania ·

Dankie dat ek elke dag bewus kan raak van hoe nietig ek is en tekort skiet. Die Here is groot en doen so baie vir my as mens. Ek waardeer die dagstukkies.

E ·

So kosbaar. Daar is soveel geheimenisse en beloftes in die woord, en vandag lees ek hierdie vers in Maleagie.
Dankie Jesus vir al U mooi beloftes. Dink net (soos ń kind net kan droom), wat wag vir ons? Hoe mooi en lekker gaan ons woonings eendag wees? Watter kleure gaan daar wees, diere, vrugte wat ons nie ken nie, edelstene? Shoe, ek dink ons gaan ń baie groot geskenk kry!!

O Heer help my om uit en aan te hou tot daardie dag en vir elkeen wat dit begeer.

Amen en Jesus liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.