Gedagte vir die dag: My skaduwee

 lighuis_donker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“(D)an is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig”. (Psalm 139:12)

Een nag het ek wakker geword van ’n dowwe lig wat in my kamer skyn. Ek het opgestaan, die gordyne weggetrek – en die pragtigste volmaan in die lug sien hang. Dit het die hele landskap verlig, en ook oor my geskyn. Ek het verwonderd om my gekyk. My skaduwee was skerp op die vloer afgeëts.

Kan jy dit glo: Selfs in die nag het ek ’n skaduwee!

Ná hierdie ervaring het ek altyd probeer raaksien waar my skaduwee lê wanneer daar min lig rondom my is. Dit het my geboei dat ek tóg ’n skadu kon hê al is dit sterk skemer.

Hoe meer ek na my skaduwee opgelet het, hoe meer het ek besef dat ’n skaduwee deel van jou bestaan bly. Jy kom nie sommer van hom af weg nie. Of dit nou bewolk is en of die son skyn, en selfs in die nag; daar is ’n skaduwee wat uit jou groei.

In Matteus 28 lees ons oor Jesus se Hemelvaart, en oor die dissipels se verlies.

Dit moes sekerlik vir daardie klompie volgelinge moeilik gewees het om te aanvaar dat die Een met wie hulle met soveel vrymoedigheid kon praat, nie meer in vlees en bloed by hulle sou wees nie. Dat Hy aan wie se arm hulle kon raak as hulle sy aandag wou trek, nie meer naby sou wees nie. Hy wat saam met hulle geëet en gereis het, sou nie meer ’n hand of ’n skouer bied waaraan hulle kon raak nie.

Hy in wie se oë hulle kon kyk as hulle begin twyfel het, wat sy arm om hul skouers gesit en op ’n keer hul voete gewas het, Hy het van hulle af weggegaan.

Wat ’n onberekenbare verlies!

En tog …

Jesus se afskeidswoorde aan hulle was: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Matt 28:20). Hy het belowe dat Hy met elkeen van hulle sou wees, soos ’n skaduwee.

Hy sê dit op verskeie maniere ook aan ons: Ek is met julle. Ek is by julle. Ek is naby aan julle. Ek is aan julle verbind.

Soos ’n skaduwee wat maar altyd deel is van jou, só is Hy teenaan jou. Dit maak nie saak hoe min lig daar in jou lewe is nie. Selfs in die nag is Jesus by jou.

En as dit régtig donker word? Só donker dat selfs die dag soos nag voel en jou skaduwee deur die donkerte ingesluk is? Dan help die psalmdigter ons met hierdie woorde: “(D)an is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig” (Ps 139:12 – 1933/1953-vertaling).

Kyk gou: Waar lê jou skaduwee nou?

Weet dan: Só naby is God op hierdie oomblik aan jou.

Here, dankie dat U altyd met my is, elke dag en elke nag van my lewe.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.