My skild is by God wat die opregtes van hart verlos. (Psalm 7:11, Bybel in Afrikaans 1933/1953)
Dawid kla oor al die boosheid om hom – daar is net te veel goddeloosheid, onreg en geweld. Hy pleit by God dat Hy as Regter moet verskyn en dinge regmaak. Ons het dieselfde behoefte, nie waar nie? Dawid vind wel vrede in sy geloof dat God sy “skild” is – ’n algemene simbool in die Skrif vir verdediging of beskerming. Soldate het mos gekeer met hulle skild en aangeval met hulle swaard. Vir Dawid is dit ’n uitgemaakte saak dat God “opregte mense” verdedig.
Dis dan ons les: Wees opreg! Wat is opregtheid? Opregtheid is nie perfeksie nie, maar openlikheid, deursigtigheid – om nie met maskers te leef of ’n front voor te hou nie. ’n Opregte persoon is net homself – hy is wie hy is, foute en al! Met ’n persoon wat eg en eerlik en oop is, kan God ’n pad stap. Dawid was ook so. Mense vol voorgee en valsheid kom egter nie ver nie. Luister: Kom onder God se skild met die regte houding!
Beskermer, dis swaar om my eie skild te dra – ek vertrou Ú voortaan vir my lewe. Amen.