Gedagte vir die dag: My wil

 man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 42:1-9

‘n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ‘n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is. (Jesaja 42:3)

Die Here se wil.  Dit is waarskynlik die Christelike geloofswêreld se enkele mees misbruikte woordkombinasie.  Dese en gene gebruik dit op elke moontlike en onmoontlike plek, en in elke denkbare en ondenkbare situasie.  Selfs die moderne versekeringsbedryf het ’n onderafdeling genaamd “Rampe, ellende en ander onverklaarbaarhede”, of kortweg, “an act of God”.

God se werk. Willens en wetens.

Wat ‘n goddelose god word hier tog beskryf!  Niks minder nie as ‘n god wat na die beeld en die gelykenis van die mens geskep is.  Want die Bybel ken hóm nie, behalwe dalk in die afskuwelike verhale oor die gesnede beelde waarvan ons in die Ou-Testamentiese profeteverhale en koningsvertellings lees.  Nee, die God van die Bybel is heeltemal anders as daardie wraaksugtige, kleinsielige skeppings van die aartsbygelowiges.

Die God in die Bybel, die Een wat ‘n dienaar aanstel om sy wil bekend te maak, leer ken ons in Jesaja 42.  Hierdie dienaar praat soos Hy, met ‘n sagte stem.  Bring, soos Hy die lig na die donkerte, bevryding na die vasgevangdes.

Soos die God wat hom aangestel het, sal hierdie dienaar nie gebrokenes vertrap en sukkelaars agterlaat nie.  Dit is sy wil, soos sy God s’n, om moed te gee aan dié wat swaar sug, om ‘n uitsig te gee an dié wat in hul klein hoekie vasgevang sit.  Om asem te gee aan dié wat doodsbenoud is.

U wil is hierdie wêreld se behoud, Here.  U werke bring herstel. Ek soek net u wil, en ek begeer net u optrede.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.