Gedagte vir die dag: My woord is my eer

Stiltetyd_assisi-annelize.jpg

Foto: Annelize Brits

Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u. Waarom sal u sonde doen oor ’n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?” (1 Samuel 19:4, 5)

’n Verbond tussen mense bied ’n vertrouensraamwerk. Dit veronderstel dat die persone binne hierdie raamwerk na mekaar sal omsien. En dis presies wat Jonatan doen. Hy pleit by Saul om Dawid se lewe te spaar.

Jonatan weet dat – indien Dawid sterf – hý na Saul koning sal word. Tog pleit hy twee keer vir sy vriend Dawid se lewe. Hy waarsku boonop vir Dawid dat Saul hom wil doodmaak.

Jonatan is lojaal aan Saul én Dawid. Hy praat nie agteraf sleg van Dawid wanneer hy by Saul is nie, en wanneer hy by Dawid is, praat hy met respek van sy pa. Hy tree onberispelik teenoor albei op.

Hoewel dit onwaarskynlik is dat ons met so ’n situasie gekonfronteer sal word, is Jonatan se optrede vir ons ’n riglyn in ons optrede teenoor mense wat in konflik met mekaar leef.

In Efesiërs 4:29 (Die Bybel vir Almal) maan Paulus:  Julle moenie slegte dinge van mense sê nie, julle moet net dinge sê wat hulle geloof sterker sal maak en wat hulle sal help om te weet dat God goed is.

Hoe mooi! In ons gesprekke moet ons woorde die draers van hoop en geloof wees, nie van bitterheid en venyn nie.

Here, bewaar my van kwaadpraat. Ek wil die geur van u liefde versprei. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Dit is waar. Daar is krag in ons woorde.

Here gee ons Heilige Gees krag om met wysheid ons woorde te kies.
Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.