Gedagte vir die dag: Mýne!

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Johannes 3:16-17

… hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:17)

God het die wêreld so liefgehad, het Johannes in daardie bekende vers in sy Evangelie geskryf, dat Hy sy enigste Seun gegee het. Dit sal altyd die baken van ware liefde bly: om so lief te hê dat jy gee. En, ja, dit sluit diegene in wat uit hul oorvloed kan gee. Geld én goed. Dit sluit ook hulle in wat niks anders het om te gee nie as hul tyd. Hul aandag. Hul hande, om te maak en te voer, te koester en om die pad te beduie. Hul voete, om ’n ent saam te stap,’n tweede kilometer, of sommer heelpad. Hul mond, om namens die stemloses te praat. Hul pen, om namens die ongeletterdes ’n brief te skryf of ’n navraag te rig. Hul ander wang, om dié te draai in die naam van hulle wat mishandel en misken word.

Om te gee is om God te gehoorsaam. En dit is nie moeilik om agter te kom hoe gehoorsaamheid aan Hom lyk nie. Dit is om te maak soos Hy maak. Dit is heel prakties: Wat Hy vir ons doen, behoort ons ook vir mekaar te doen.

Daarom is dit bitter tragies dat Johannes hier kies om ’n negatiewe vraag te vra. Om te sê: “geen gevoel” en “hoe kan die liefde van God …?” (v. 17).

Dit is asof hy diep sug omdat hy, ten spyte van die klinkende voorbeelde van God se liefde, by voorbaat weet: Daar sal niks van kom nie. God se kinders vra mos allereers wat daar vir hulle is, en dan hou hulle wat hulle het. Styf teen die bors, diep in die sak. Mýne! Mýne! Mýne!

Ag, Here! Help my onthou: Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.