Gedagte vir die dag: ’n Boom by die stroom

 watervval_bome_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.co.za

En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. (Psalm 1:3, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

As jy in die Woord bly en die Woord in jou, ontwikkel daar by jou diepte, volwassenheid, rypheid. Jy word sterk, want jou kennis van God neem toe. Jou Geesvervuldheid – waarvan die “stroom” ’n simbool is – word sigbaar in jou vrug: liefde, vrede, vreugde, goedheid, getrouheid, geduld … Mense kom skuil by jou skaduwee, want hulle sien jou leierskap raak: sterk geloof, liefde wat hulle insluit, woorde wat hulle weer hoop gee.

Dan “voer jy alles voorspoedig uit”, volgens die psalmis. Jy moet voorspoed egter nie net in aardse terme definieer nie. In Bybelse terme beteken voorspoed dat jou God met jou is – dat jy jou lewe saam met Hom leef. Dit beteken dat jy sý vrede en krag beleef in die goeie en slegte tye van die lewe, dat jy sterk en buigsaam genoeg is om alles te hanteer. Dít is die lewe van ’n geseënde, van ’n geliefde! Dít is ’n voorspoedige lewe, die sjalom-vrede van ’n regverdige. Dít is die vrug van ’n diep verhouding.

Laat ek in U bly, Here, soos U in my, en laat ek baie vrug dra. Amen.

Bron:
Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.