Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. (1 Korintiërs 9:24-25)
Ek het ’n goeie vriendin wat wanneer dit moeilik gaan altyd sê: “Jy weet, ons leef nog duskant die hemel!” Paulus beklemtoon in vandag se bronteks dat die Christelike lewe nie altyd maanskyn en rose is nie en harde werk vereis. Hy vergelyk die lewe met ’n wedloop en sê dat die atleet wat die wedloop wil wen, gedissiplineerd en doelgerig moet wees.
Dit is nog vroeg in die nuwe jaar, maar dalk voel jy reeds moeg en afgemat. ʼn Mens se lewensreis kan soms uitputtend wees en selfs ondraagbaar raak. Onthou, jou hemelse beloning wag op jou. Wanneer dit voel jy kan nie meer nie, put uit die energie- en kragbron van God. Hy belowe om dié wat op Hom vertrou, nuwe krag te gee. Hy sal vir jou uithouvermoë gee tydens jou lewensreis. Bestee tyd aan die Woord en gebed, dit sal vir jou die nodige en noodsaaklike geestelike stamina gee. Oefen getrou, want die Christelike lewe maak dit die moeite werd om te leef.
Ons moet soms iets wat vir ons belangrik is, prysgee omdat God wil hê dat ons iets anders moet doen. Ons lewensdoel sal bepaal hoeveel dissipline ons nodig het en waarvan ons alles moet afsien. As die doel daarmee is dat dit tot die eer van God strek, is die dinge wat ons nou moet ontbeer, niks in vergelyking met die ewige beloning wat ons sal ontvang nie.
Volharding en doelgerigtheid bring uiteindelik die heerlike beloning. God het nêrens belowe dat die Christelike lewe maklik sal wees nie. Inteendeel, ons lees in die Bybel hoe Jesus, Johannes en ander Christene, gely het. Ons hoef egter nie te volhard sonder die belofte van ’n beloning of prys nie want God kom altyd sy beloftes na.
Ek kan heelhartig met die skryfster saamstem. Enige iemand wat dink om ‘n gelowige kind van ons Hemelse Vader te wees is maanskyn en rose, leef in ‘n droomwêreld. Agv jou oortuigings en vertroue wat jy in God stel, is al wat bose mag se meelopers, trawante en dissipels op jou soos ‘n “cheap suite”. Jy word van alle kante versoek, besoek en soos die Zoeloes sê kataza (gepla). Almal het altyd baie beter idees, planne en voorstelle wat aanloklik lyk, maar dit is nie die moeite werd nie. Vra my. Dit is die een rede hoekom daar so onrustigheid onder die mense is deesdae. Die ongelowiges weet hier kom iets, hulle verwag iets maar weet nie wat nie, dit is hoekom die Christen Gelowiges so erg aangeval word.
AMEN op jou kommentaar Chris!