Lees Markus 15:21-42
Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het … Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag … (Markus 15:25, 42)
Was dit die mees dramatiese ure wat daar al was in die wêreldgeskiedenis? Of bloot nog ‘n teregstelling in ‘n niksbeduidende uithoek van die Romeinse Ryk?
Hoe sou die spottende verbygangers dit weet? Of Simon, die niksvermoedende besoeker uit Sirene? Die medegekruisigdes het hul eie doodsangs beleef, en die soldate het bloot hul gewone take verrig: gesorg dat die veroordeelde by die slagplek uitkom, hom ‘n pynstiller aangebied en hom toe gekruisig. Toe hul loon probeer aanvul met ‘n bietjie dobbel.
Dalk is daar iets af te lei uit die heidense offisier se woorde: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
Die waarheid is dat toe alles verby was, nie ens die stompsinnigste skepsel op aarde sou kon sê die gordyn is uiteindelik laat sak nie. Almal het immers geweet die gordyn wat regtig saak maak, het geskeur. Aan flarde gewaai deur die Seun van God se laaste asem. Dat die begrippe “lewe” en “dood” onomkeerbaar verander het.
Dat dit toe inderdaad die betekenisvolste dag in menseheugenis was. Sleg, ja, ellendig sleg. Vol angs en pyn en asynsuur en bloed.
Alle gelowiges sou later getuig dat dit ook die beste dag was wat daar al was, daardie Goeie Vrydag. Hulle sou wel nog tot die derde dag daarna moes wag om dit bo alle twyfel vas te stel, maar hulle sou dit in alle ewigheid nooit vergeet nie.
Here Jesus, U het die allerbeste moontlik gemaak deur die allerergste te verduur. Dit is ons allertroos in hierdie lewe, ook wanneer ons wonder of ons ooit sal oorleef.