Gedagte vir die dag: ’n Dankgebed

arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ (Lukas 22:19)

“Elke oomblik dra in hom die geleentheid om dankbaar te wees. Daar is in elke situasie die potensiaal om diep vreugde te beleef.”

Só skryf Ann Voskamp, ’n Amerikaanse ma en skrywer van die boek One thousand gifts.

Sy vertel van die woord wat ’n hele wêreld vir haar oopgebreek het – eucharisteo. Dit word só in Lukas 22:19 gebruik: “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.’”

Eucharisteo is daardie dankgebed van Jesus, sy dankie-sê.

Hierdie Griekse woord druk dus dank uit, en met ’n oneindige diepte. Die wortel is charis, wat “genade” beteken. Of ’n geskenk, iets wat jy ontvang. En charis is van chara afgelei, wat “vreugde” beteken.

Is dit nie maar waarna ons almal op soek is nie? Vreugde in hierdie lewe. ’n Heilige blydskap as bevestiging dat ons die lewe het, en dit in oorvloed?

Die sleutel tot die lewe, het Ann Voskamp ontdek, is eucharisteo, charis, chara. Danksegging, genade, vreugde. Deur danksegging ken ons genade en lewensvreugde, beleef ons ’n heilige blydskap.

Sy haal hieroor ook die befaamde Albert Schweitzer aan: “The greatest thing is to give thanks for everything. He who has learned this, knows what it means to live … He has penetrated the whole mystery of life: giving thanks for everything.”

Maar kán ’n mens regtig vir álles dankie sê?

Dankie vir ’n siek kind? Dankie vir beledigings, vir slaggate in die pad?

Kan ’n mens dankie sê vir korrupte leiers en oneerlike sakemense?

Dankie vir te min geld, te veel werk?

Ja, jy kan, het Ann Voskamp vasgestel. Ja, jy kan regtig vir alles dankie sê en op elke oomblik en in elke situasie dankbaar wees. Dit is die sleutel tot lewensvreugde. Dan werk dit só: Genade – ontvang dit. Vreugde – beleef dit. Dank – kies dit.

Here Jesus, ek bid dat U my ook sal leer oor “eucharisteo”, ’n lewe van danksegging.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

leser ·

Here, dankie vir U nimmereindigende Genade wat U vir ons het, elke dag, elke oomblik
Dankie Abba Vader, Dankie

OWO ·

Dit is wat Ann Voskamp vasgestel het.Ons is ook nie op aarde geplaas om alles te vergeestelik nie.God het ook vir die mens ‘n verstand gegee om probleme te identifiseer en op te los.As daar slaggate in die pad is of jou kind is siek maak jy planne om dit op te los.Ten spyte van alles verwag God wel dat ons uit dankbaarheid moet leef.

Amelia Steenkamp ·

Ek dank God vir alles in my lewe….Ook vir pyn en lyding want dit is wat my fisies en geestelik sterk maak.
Dankie vir alles…Amen!

Anton ·

Here Jesus seun van God wees ons genadig. Ons dank U vir alles wat ons het goed en sleg. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.