Gedagte vir die dag: ’n Definisie van genade

klip-hart-boekevat.jpg

Foto: imageprest.com

Lees: 1 Johannes 4:7-21

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. (1 Johannes 4:7, 16)

Yancey skryf in sy boek What’s so Amazing about Grace? dat hy ʼn probleem gehad het daarmee om ’n definisie van genade saam te stel. Uiteindelik het hy besluit op: “Grace means that there is nothing we can do to make God love us more. And grace means there is nothing we can do to make God love us less.”

Dít is genade in ’n neutedop: Daar is absoluut niks wat jy kan doen wat sal maak dat God jou liewer sal hê nie; ewe-eens is daar ook geen sonde erg genoeg wat jy kan pleeg wat kan veroorsaak dat Hy jou minder lief sal hê nie. God se liefde vir jou het reeds ’n versadigingspunt bereik. Hy het jou alreeds so lief soos wat ’n oneindige God kán liefhê.

Wanneer ons die Bybel bestudeer, staan ons verstom oor dié mense wat God uitsonder om lief te hê. Daar is Jakob wat almal om hom bedrieg het, koning Dawid, beide ’n egbreker én ʼn moordenaar, wat God ’n “man na sy hart” noem en Paulus wat Christene met groot passie vervolg en in die tronk laat gooi het.

God se liefde vir jou vra egter wederliefde. As jy graag wil vas stel of jy reeds God se liefde beantwoord het, gaan lees gerus 1 Johannes 4:16: “Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.”

Here God, U het my so lief dat U liefde ís. Help my om u liefde vir my te bewys en uit te leef in my eie liefde vir ander mense. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

neelsie ·

Aanvaar Jesus as jou verlosser…dit is God se grootste genadegawe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.