Gedagte vir die dag:  ’n Dor land

 karoo_vlakte_hantam_stiltetyd.jpeg

Hantam-Karoo (foto: Annelize Brits)

Lees Psalm 63:1-9

Ek soek U, o God, my God … (Psalm 63:2)

“ ’n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Juda-woestyn.”

Só lui die opskrif van hierdie psalm. Daarmee kry ons ook die verklaring vir die beeldspraak hierin. Vir die sterk werkwoorde waarmee dit begin: “… ek dors na U; ek smag na U …” (v. 2).

Dit is nie seker of Dawid steeds in dié woestyn skuil wanneer hy hier skryf en of hy dit terugskouend doen nie. Dit maak in elk geval nie saak nie – die vaste waarheid hierin spring soos ’n helder fontein uit die dorre klippe: “Ek bly altyd naby U …” (v. 9).

Ja, of hy deur die genade weer terug is in die tempel en of hy steeds in die wildernis wegkruip, hy weet sy Here is by hom. Daar- om kom dit vir hom natuurlik om sy hande op te hef om Hom te prys (vgl. v. 5). Om sy mond oop te maak om Hom te loof (vgl. v. 6). Hy kry dit reg om snags op sy bed, te midde van ander bekommernisse wat hom waaksaam en straks ook uit die slaap hou, aan sy Here te dink. Om sy goedheid voor oë te hou, juis ook in daardie mees weerlose tyd, dié tussen sononder en dagbreek.

Dit bly gelowiges se groot troos: hul Here is nie ver nie. Israel se Bewaarder sluimer of slaap nie. Hy is die God van die kerk én die woestyn. Hy hoor luidkeelse jubeling (vgl. v. 6) en diepe nadenke (vgl. v. 7) ewe goed.

Én, spesiaal vir woestyndwalers en Godsoekers deur die eeue wat dit nou nog nie weet nie: Hy laat Hom vind. Maklik, maklik. Hy is tog ook die oop-en-bloot-God.

Here, ek is die wegkruiper, die verdwaler. U het my gevind. Ek prys u Naam!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Von ·

Dankie Here Jesus vir genade en dat U my liefhet sonder dat ek dit verdien

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Cauin ·

II Korinthiers 4:3 . Die evangelie bly bedek vir die wat verlore gaan ook ne’.

christine ·

Dankie Here dat U ons lief het en ons aanvaar soos ons is, dankie dat U die steunpilaar in ons lewe is en dat ons sonder U verlore sal wees.AMEN

Carol ·

Dit was juis in daardie weerlose tyd wat hierdie woestyndwaler en Godsoeker Hom gekry het…en ja: maklik ♥

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.