Gedagte vir die dag: ’n Enigste troos

riete_rivier_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Tessalonisense 4:13-18

Troos mekaar dan met hierdie woorde. (1 Tessalonisense 4:18)

Dit is die gelowiges se enigste troos, sê die ou kerkvaders, dat ons aan Christus behoort. Of ons lewe en of ons reeds dood is, ons is sy eiendom. Hier vertel Paulus aan die gemeente in Tessalonika hoe dit werk, dié soort “behoort”. Veral nadat jy gesterf het.

Dit was sekerlik nodig, want hulle het dit klaarblyklik nie verstaan nie. Ons verstaan dit ook nie te goed nie, en daarom kan ons gerus maar die ore spits. Maar, lyk dit my, as ons vir ’n gedetailleerde uiteensetting van die sterfproses wag, sal ons lank wag. Want Paulus sê maar wat hy weet – en wié weet nou eintlik wát oor doodgaan?

Paulus weet wel van Jesus. En hy weet wat hy van Hom glo: “… dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het”. Hy ken God, en hy weet wat hy van Hom glo: “… dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem” (v. 14). Nou gebruik hy groot woorde en duiselingwekkende begrippe om te verduidelik hoe God te werk sal gaan om dit alles te bereik.

Ag, maar dit klink so … onwerklik, soos ’n fantasie. Hedendaagse mense, ook gelowiges, vat maar langtand hieraan.

Dit maak nie regtig saak nie. Wat alles beeldspraak is en wat die helder werklikheid is – wel, dit sal ons maar moet sien, eendag. Waaroor daar gelukkig nie geredeneer hoef te word nie, is Paulus se klokhelder gevolgtrekking: “En so sal ons altyd by die Here wees” (v. 17).

Hiérmee, sê Paulus, kan ons mekaar troos. Om by die Here te wees omdat ons aan Hom behoort, hierdie kant én anderkant die graf – dit is ons enigste troos.

Ek behoort aan U, Here. Niks sal my ooit van U kan skei nie.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U beloof dat niks maar niks ons sal skei van U liefde nie…U is nie n mens dat U sal lieg nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.