Gedagte vir die dag: ’n Feesmaal saam met die Herder

Kerse_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 23

U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. (Psalm 23:5-6)

Dawid het feitlik sy lewe lank telkens in gevaarsituasies verkeer. Hy moes nie net vir koning Saul en sy vyande vlug nie, maar ook vir sy kinders. God was vir hom sy enigste bron van veiligheid. Hy kon net op sy Herder se goedheid en liefde reken. Oosterlinge is bekend vir hulle gasvryheid. In Psalm 23:6 verander die beeld van ’n herder en sy skape, na dié van ’n Gasheer en sy eregas. Ons is nou nie meer “skape” nie, maar eregaste – God is ons groot Gasheer wat vir sy kinders ’n feesmaal gereedmaak, die bruilofsmaal van die Lam.

God waarborg vandag steeds die veiligheid van sy kinders soos die herder dit vir sy skape doen. Na gevaarsituasies waardeur God ons lei, arriveer ons in ’n plek van veiligheid; God maak vir ons ’n feesmaal in die hemel gereed waar ons as eregaste ontvang word.

Dit is God se wil dat die lewe vir elkeen van sy kinders ’n fees sal wees. En die kulminasie van hierdie fees is die hemelse feesmaal by die bruilof van die Lam wat vir sy kinders gereedgemaak word. Maak doodseker dat jou plek by daardie feesmaal reeds bespreek is – jy kan nou al daarvan seker wees as jy aan God behoort!

Here, ek loof U as my God wat vir my ’n feesmaal gereedmaak, sodat ek eendag as u eregas by die bruilofsmaal van die Lam kan aansit – nou nie meer as “skaap” nie, maar as u bruid. Dankie vir die versekering dat my plek daar reeds bespreek is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.