Video: ’n Gebed vir die Solidariteit Beweging

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het die dankdiens vir die Solidariteit Beweging se 120 bestaansjaar by die Voortrekkermonument gelei. (Foto verskaf)

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het hierdie gebed vir die Solidariteit Beweging geskryf vir die dankdiens op 5 Junie tydens die Solidariteit Beweging se 120-jaar-feesviering.

O Here, ons Here

Ons kom as ʼn Beweging voor U in nederige afhanklikheid, bewus van ons eie swakheid, nietigheid en gebrokenheid. Ons is eintlik maar stukkende erdekruike, maar erdekruike waaruit die lig van die verlossing van Christus ook skyn. Juis in ons swakheid nader ons in gebed tot U, buig ons die knie voor U, die almagtige, ewige, onbegryplike God van hemel en aarde.

Ons bely daar is ʼn troon in die hemel en Een sit op die troon. Dit is die troon van ons Here Jesus Christus en juis omdat ons aan sy koningskap nie twyfel nie, vra ons U om aan elke instelling van hierdie Beweging die geloof en krag te gee om in voorspoed dankbaar te wees, en om in teëspoed geduldig te bly en ʼn vaste vertroue te hê in U wat oor alles en almal beskik.

En dan bid ons, o Vader:

Gee aan Solidariteit die vermoë om ʼn netwerk van werksgeleenthede te vestig. Gee aan hulle die vermoë om werkplekke sterk te maak en uit te brei sodat die negatiewe bestry en die positiewe bevorder kan word. Ons bid dat u seën op die arbeid van ons mense sal rus.

Gee aan Kanton die gawes, middele en vermoëns om vir ons leefruimtes te bou; leefruimtes vir die moedertaal wat U aan ons gegee het; leefruimtes wat ons sal versterk en vir ons hoop en verwagtinge vir die toekom sal gee.

Gee aan ons Skoleondersteuningsentrum die skranderderheid, wysheid en insig om opnuut en skeppend te dink oor hoe hulle onderwysers en kinders kan oplei en toerus volgens die vermoë wat U aan hulle gegee het. Dít, sodat die geslagte wat kom ook sal bely dat kennis begin by die dien van die Here.

O Here, laat AfriForum en al sy vennote ter wille van ons almal vestig en bou, met die swaard van geregtigheid in die een hand en die troffel van vooruitgang in die ander sodat ons almal veilig kan wees en voel in die land wat U aan ons gegee het.

U Woord leer ons: “ Aan die skryf van baie boekrolle kom daar geen einde nie, […]” (Prediker 12:12; AFR. 20). Daarom is ons bede dat U deur AfriForum Uitgewers boeke in ons taal aan ons mense sal voorsien wat U tot eer is, wat van die grootheid van u werke in ons voorgeslagte vertel, en wat ons roeping en die uitdagings van ons tyd in hedendaagse terme kan verwoord.

Maak Maroela Media ʼn pen wat vaardig, gebalanseerd en betroubaar skryf. Dit is so nodig in die tyd waarin ons leef. Laat hulle dit wat ons almal moet weet, vertel en deel op ʼn wyse wat u grootheid sigbaar maak in goeie en in slegte nuus.

Verskaf wat nodig is aan almal by Helpende Hand, o Vader, om sodoende die voorspoed van ons mense te verseker. Gee ons die daaglikse brood – alles wat na liggaam en siel nodig mag wees – sodat ons ons kwesbare groepe met ons kan saamneem. Maak ruimte in ons harte vir die armes, gestremdes, bejaardes, swakkes en kwesbare gesinne sodat ons hulle nie agterlaat wanneer ons vooruitgaan nie. Seën elke hand, elke Ons Winkel en elke donateur deur wie U voorsien. Hou ons hande in u hand.

Gebruik Akademia in u diens sodat ons jong mense onderrig kan ontvang en studeer, waarna hulle die toekoms toegerus tegemoet kan gaan en altyd kan bely: “Van al wat leef, is U die Bron; […] (VGK Psalms en Skrifberymings, Psalm 36). Mag die ryke erfenis van ons velde en die moontlikhede van die toekoms altyd deur ons studente se opvoeding en gawes ontsluit word.

Laat Sol-Tech ʼn baken van hoop in hierdie land wees. Soveel seëninge en genade het U reeds vir ons almal deur Sol-Tech gegee. Laat elke hand wat oplei kragtig bou aan die toekoms van ons mense in hierdie land – hardwerkende, roepingsbewuste, getroue hande wat met ywer diensbaar is.

Here, laat die talente en gawes deur Solidariteit se Finansiële Dienste vermeerder word. Gee dat dit sorgvuldig beheer word en dat daar getrou daarna omgesien word sodat ons hele Beweging goeie en getroue rentmeesters kan wees van dit wat aan ons toevertrou is.

Leer ook ons jong mense bou en werk, versorg en omgee deur die opleiding van Bo-Karoo Opleiding sodat elkeen roepingsgedrewe die arbeidsmark kan betree.

Gee deur die FAK aan ons ʼn toekomsgerigte kultuurtuiste. Bewaar wat vir ons kosbaar is, en laat ons nie u werke deur al die eeue vergeet nie. Laat ons geestelike en kulturele erfenis vir ons kosbaar bly, en laat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly.

Ons dank U vir die werk van Saai en bid ook vir ons boere; hulle lê ons so na aan die hart. Wat ʼn geweldige taak het U nie aan Saai opgedra nie. Gee hulle die vermoë, Here, om die regte dinge op die regte tye te doen. Maak hulle sterk sodat hulle ons boere en hulle gesinne sterk kan maak, want ons weet deur ons boere voorsien U aan ons almal.

Deur u genade het ons Beweging soveel vriende. Ons bring hulle een vir een voor U en bid om u genade vir elkeen van hulle.

En as dit in u raadsplan so beplan is, laat ons help om Orania uit te bou tot ʼn stad wat U sal dien en vrees. Laat die bouwerk U tot eer wees.

Maar as U “Die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou […].” (Psalm 127:1; AFR. 33/53). Daarom vra ons dat U al ons instellings deur u Woord en u Woord alleen sal leer bou. Here, leer ons u regte weë.

Neem die leiers van ons Beweging in u hande en lei hulle sodat hulle na U sal kyk vir leiding en rigting, koers en genade. Maak hulle sterk deur u Gees wat in hulle woon en werk.

O Vader in die hemel –

Eben-Haeser – tot hier het U ons gedra.

Immanuel – U is met ons.

Maranata – ons Koning kom!

As dit in u raadsplan so beskik is, maak ons vry, veilig en voorspoedig in hierdie land tot u wederkoms.

In die naam van Jesus Christus ons Here bid ons al hierdie dinge.

Amen

  • Luister ook na Rouel Beukes se voorlesing van die gebed boaan hierdie plasing. 
  • Kyk die video-opname van die gebed hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank ·

Die Here is en bly getrou. Maranata, ja kom Here Jesus, kom.

Yvonne ·

Amen….dankie Here vir hierdie Beweging wat goed ten doel het, seen elkeen wat so hard werk en aanvegte afweer.

annie ·

Ná die Anglo-Boereooloë moes ‘n Engelse vrou ingryp om die arme vervalle Afrikanerdom op te help. Grootse byeenkomste en woorde is mooi, maar die meeste Afrikaners kan nie unieledegeld betaal nie want daar is nie ‘n unie vir arm werkloses nie. Die taak is groter as groot en die dapperes sal nou hand moet opsteek vir hul naaste en planne beraam vir die oorblyfsels van die verskroeide-aarde-beleid van die afgelope 28 jaar wat ons daar gebring het. Moet net nie eers weer ‘n monument bou nie.

SjN ·

Baie baie dankie aan Hannes en sy medewerkers vir die goeie werk wat hul doen.

Vossie ·

Pragtige gebed. Dankie. Ek wil graag ‘n opregte vraag vra. Is die troon nie God sin en Jesus aan sy regter kant nie? Dink nie Jesus sit op die troon nie.

kaplyn ·

My goeie vriend, ja my kleinkind het amper dieselfde vraag gevra na aanleiding van die gesang “Op berge en in dale en oral is my God” Hy wou weet as God dan in die hemel is hoe kan Hy oral wees. Na aanleiding daarvan is die antwoord dat God ‘n onbegrylik Wese is, Vader Seun en Gees. God is een God en net soos die Seun vanuit God neergedaal het tot die aarde, is Jesus met Sy hemelvaart verhoog tot die hemeltroon aan God se regterhand en is die Heilige Gees die trooster gestuur om in ons harte te woon. Maar dit beteken nie, met groot eerbied gesê, dat die Heilige Gees nou in die hemel ontbreek nie, want net soos die Seun uit die Vader is, is die Heilige Gees ook uit die Vader. Ja werklik onbegryplik maar waarlik waaragtig. (Ek hoop dit beantwoord jou vraag)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.