Gedagte vir die dag: ’n Geknakte riet

Snoei_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jesaja 42:3a)

Daar was al kere in my lewe dat ek myself in ’n klein bondeltjie wou oprol, in my bed bly lê en dae lank net slaap. In sulke tye het dit al my wilskrag en pligsgetrouheid gekos om die dinge te doen wat van my verwag word: by die werk, in my huishouding, by die kerk en vir my vriende.

Dit het dan ook vir my gevoel asof ek, soos ’n robot, my Christenskap werktuiglik uitleef. My gebede was oppervlakkig, Bybellees was haastig en leweloos. En wanneer ek tussen medegelowiges was, het ek al die regte dinge gesê sonder dat my hart in my woorde was.

Met verloop van tyd begin jy jou oor hierdie doodsheid skaam. Maar ek het net geen lus gehad om iets daaraan te doen nie. Ja, ek wóú daarvan ontslae raak, maar ek het nie genoeg krag gehad om die stryd aan te pak nie.

Waar sou ek in elk geval begin om hierdie energielose, doodse gevoel behoorlik af te skud?

Ek het bly ronddobber, soms probeer water trap om net bo die oppervlak te bly. Maar ek het gedurig die gevoel gehad ek is op die punt om finaal onder te gaan en te verdrink.

En toe, op ’n dag, bars die hulpkreet oor my lippe: “Help my, Jesus!”

Ek het darem nog geweet wie die enigste Een is wat my kon red …

Dit was kompleet asof my kreun en die gewaarwording van sy hulp tegelykertyd plaasgevind het. En ek het aanhou roep. Dalk, so dink ek nou, was dit die eerste flikkering van dankbaarheid wat wou deurbreek wat my weer en weer laat roep het …

Die lewenslus het nie dadelik teruggekeer nie. Ek het geproe-proe aan elke stukkie van God se Woord wat oor my pad gekom het. Elke Bybelvers wat ek iewers gehoor het, elke frase wat ek op Facebook raakgelees het; alles was ’n treetjie op die pad na ’n herstelde verhouding met Jesus.

Ek weet dit was Hy wat my met sy Woord gelawe het. Hy het elke stukkie gebruik om my te voed, om die hoop broksgewys terug te bring en om die dankbaarheidsvlammetjie te laat groter brand en warmer word.

Dit alles het plaasgevind totdat ek sterk genoeg was om self na die lewegewende beloftes te gaan soek wat in sy Woord opgesluit is.

Ja, dit was aanhou en uithou voordat ek op ’n dag weer kon sê: “Christus leef in my!” Ek kon in dankbaarheid terugkyk en weet: “’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jes 42:3a).

Here, dankie dat U nuwe lewe bring. Ons weet dit, ten spyte van die doodsheid wat ons soms ervaar.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Dankie Vader dat ek daagliks, U voorsiening en guns ervaar. Altyd betyds.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.