Gedagte vir die dag: ’n Gelukkige einde

Kruis1.jpgLees: Johannes 11:17-26, 33-44

Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Johannes 11:21, 25-26)

Maria en haar suster Marta vind dit onverstaanbaar dat Jesus nie betyds opdaag om hul broer Lasarus te genees nie. Marta sê reguit vir Hom dat haar broer nie sou gesterf het as Hy daar was nie. Nou vertel Jesus vir Maria dat Hy die opstanding en die lewe is, en dat elkeen wat in Hom glo, vir altyd sal lewe, al sterf hy ook. Hierop gaan Hy saam met die susters na Lasarus se graf en wek hom uit die dood op.

Jesus gebruik die twee susters se ontreddering om iets van God se wonderwerkende krag aan hulle te demonstreer. Hy gee hulle broer op ’n wonderbaarlike manier aan hulle terug toe hulle gedink het hulle het hom vir altyd verloor.

Dit gebeur nie altyd so met óns nie. Ons dierbares sterf, ons siekes word nie gesond nie en al ons probleme word nie onmiddellik opgelos nie.

Maar God se stilte op ons waaromvrae lei altyd na ’n groter openbaring van sy almag. Op pad daarheen kry jy wel soms seer, maar jy weet vir seker daar wag eendag ’n gelukkige einde op jou. Jy het mos klaar die waarborg dat God reeds sy onveranderlike liefde vir jou aan ’n kruis bewys het. Onthou dit wanneer dit weer vir jou voel of jy nie antwoorde op jou eie waaromvrae kry nie.

Here Jesus, ek loof U as die Opstanding en die Lewe wat vir my die ewige lewe waarborg. Dankie dat ek weet U bewerk ’n gelukkige einde vir my. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.