Gedagte vir die dag: ’n Gepaste antwoord

Bybel_kruis_2_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  (Johannes 3:16 – 1933/1953-vertaling)

Dít is die spil waarom die evangelie draai. Die kern van ons Christelike lewe. Dis die bewys van God se bodemlose liefde en sy onmeetlike genade vir mense soos ons.

Dis natuurlik ook die bewys van ’n skeefgetrekte transaksie: God gee álles – en ons ontvang alles, bloot deur Hom te glo.

Dis ’n oneindige voorreg om te kan weet dat ek ’n sondaar is wat deur genade gered is en nou deel van God se huisgesin mag wees. Dat ek deel mag wees van ’n ewige Koninkryk. Ek is nie meer ’n slaaf van sonde nie, maar ek mag in die vryheid en liefde leef waarin die Heilige Gees my lei.

Ja, dat ek niks hiervan verdien nie en dit mildelik uit God se hand ontvang, is pure genade. Elke dag beleef ek sy krag en sy liefde, al loop ek ook soms daarvan weg …

Op die geloofspad waar ons die volheid van Jesus se offer en redding en die perkeloosheid van sy liefde en reddende genade ontdek, wonder ons soms wat ons vir Hóm kan doen. Wat kán ons teruggee uit erkenning vir dit wat ons so ruimskoots ontvang – daardie Goddelike liefde, die krag en vreugde wat die Heilige Gees ons gee?

Daar is een ding wat ons kan gee, die enigste: om as verloste, geliefde, vrygemaakte kinders van God met ons hele lewe dankie te sê.

Here, ons kan nooit genoeg dankie sê vir dít wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het nie, maar ons sal ook nie ophou dankie sê nie.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

Albert ·

Ag nee wat, tyd vir nog ‘n preek het ek nie. Los die goed vir godsdiens blaaie. Ek verstaan wat julle wil doen, maar NEE. Godsdiens prewelings is onwelkom en dien geen doel hier nie.

wanda ·

God is oral welkom……Albert ek bid vir jou. Liefdevolle en geseënde dag. Mag jy dit in oorvloed ontvang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.