Gedagte vir die dag: ’n Gesindheid van vertroue      

woestyn_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

My dienaar Kaleb het egter ’n ander gesindheid teenoor My gewys. Hy het by My bly staan. Ek sal hom in die land laat kom wat hy gaan verken het. Sy nageslag sal die land besit. (Numeri 14:24)        

As daar ooit iemand was wat ons behoort na te volg, is dit Kaleb. Hy was ’n man met ’n groot geloof. Uit al die miljoene Israeliete wat uit Egipte weggetrek het, het net twee mans die Beloofde Land ingegaan. Die een was Josua, en die ander een was Kaleb. Hulle albei het in God geglo.

Jesus beloon altyd ons geloof. As jy net uit die boot sal klim en op die water begin stap, sal Hy saam met jou stap, net soos Hy saam met Petrus gestap het. Die geheim is om jou oë op Jesus gerig te hou, en nie op die golwe nie, anders sal jy sink.

Kaleb was ’n man wat sy oë stip op God gerig gehou het. Toe Kaleb 85 jaar oud was, het Josua vir Kaleb sy erfdeel aangebied. Hy het gevra: “Wat wil jy graag hê, Kaleb? Jy was so ’n getroue vegter vir God.” Kaleb het geantwoord: “Gee vir my die groot berggedeelte waar die reuse woon.” ’n Ware man van geloof!

Vra vandag vir God om vir jou die geloof te gee dat jy, soos Kaleb, ’n dapper gesindheid sal hê. Wanneer die wêreld vandag weens ’n ingesteldheid van vrees rondom ons inmekaartuimel en uitmekaarval, gee dit aan God se kinders die geleentheid om die koninkryk van God waarlik uit te brei.

In Romeine 4:20 sê die Bybel Abraham het nie aan die beloftes van God getwyfel en opgehou glo nie; hy het sterk in sy geloof bly staan en aan God die eer gegee. Hy was 100 jaar oud toe God vir hom belowe het hy sal die vader van baie nasies wees. Volgens mense was daar geen hoop meer dat Abraham kinders sou kon hê nie, wat nog te sê die vader van baie nasies word. En tog, omdat hy geglo het, het God vir Abraham en Sara beloon. Sara het ’n pragtige seun, Isak, in die wêreld gebring, en Abraham het die vader van alle gelowiges geword.

God diskrimineer nie op grond van ouderdom, geslag of kwalifikasies nie. Hy sal geloof beloon, net soos Hy vir Kaleb beloon het. As jy ’n dapper gesindheid het en Hom met jou hele hart volg – wat impliseer jy word ’n heilige man of vrou – belowe God aan jou ’n land van melk en heuning wat jou kinders eendag sal kan erf. Wat ’n belofte! Kom ons glo dit vandag.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
OW

In die geloof is daar 3 deugde wat van kardinale belang is om nagekom te word.Glo,vertrou en gehoorsaam wees aan God elke dag.Probeer dit,en jy sal genade ontvang.

Yvonne

Here gee my meer geloof…in Jesus Naam