Lees: Job 37:14-24
Luister hierna, Job, staan stil en dink na oor die wonderdade van God. (Job 37:14)
God vestig Job se aandag op sy wonderdade, en vra dat hy daaroor sal nadink. Die wêreld om ons is boordensvol wonders, maar ongelukkig is daar nie baie mense wat hierdie wonders raaksien en God daarvoor dank nie. Een van my gunstelingaanhalings in The Ragamuffin Gospel oor verwondering kom van rabbi Abraham Heschel. Nadat hy ’n byna noodlottige hartaanval oorleef het, sê hy vir een van sy vriende: “Ek het God nooit vir sukses, wysheid, mag of beroemdheid gevra nie. Ek het vir verwondering gevra, en Hy het dit vir my gegee.”
Elke kind hét reeds hierdie geskenk van verwondering, dis net jammer dat baie van ons dit ontgroei wanneer ons ouer word. Wanneer ek na my kleinkinders se stralende gesiggies kyk as ek vir hulle die prentjies in die wolke, ’n lekkerruikblom, ’n reënboog of ’n spinnerak met ’n spinnekoppie in die middel daarvan wys, weet ek ’n mens se lewe kan nie werklik sinvol wees as jy jou nie meer kan verwonder aan al die mooi en snaakse dinge rondom jou nie.
Wil jy nie saam met my hierdie Kerstyd elke keer gaan stilstaan as jy iets baie mooi sien en nadink oor al die wonders wat God oor jou lewenspad gebring het nie? Veral oor die grootste wonder van almal: God het sy Seun gestuur om die ewige lewe vir jou moontlik te maak as jy in Hom glo.
Here Jesus, ek loof U vir al die wonders rondom my, al die mooi geskenke uit u hand waaraan ek my elke dag kan verwonder. Dankie dat U gekom het om die wonder dat ek God se kind kan wees ’n werklikheid te maak. Amen.