Gedagte vir die dag: ’n Geskiedenisles

man_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Handelinge 7:44-53

“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook” (Handelinge 7:51).

Ons lees weer die laaste gedeelte van Stefanus, daardie dapper diaken, se toespraak voor die Joodse Raad. Dit sou sy laaste kans wees om hom los te praat uit die aanklagte wat, so het hy goed geweet, sy dood kon kos.

Ons onthou mos dat hy gekies het om dit nie te doen nie. Hy kies eerder om die godsdienstige geveinsdheid aan die kaak te stel. Sy strategie is eenvoudig: Hy bied doodgewoon ’n geskiedenisles aan.

Hy vertel aan hierdie mense wat so gesteld op hul herkoms was, bloot wat hulle reeds weet en waarop hulle so trots is. Met dié bruuske toevoeging, ’n sweepslag: “Julle hardkoppiges!”

Dan, met enkele skerp, skérp formulerings verongeluk hy die hele spul: Hy herinterpreteer  hul geskiedenis vir hulle. Hy vertel hulle (wat hulle dalk heimlik weet) dat hul voorvaders toe nié so hoogheilig was soos wat hulle graag sou wou glo nie. Kyk dan hul bloedige nalatenskap: die doodmaak van God se profete! (v. 52).

Nou swaai julle, die magtige raadslede, die septer. En julle is nét so! roep Stefanus uit.

Stefanus se vreesloosheid kos hom sy dood. Maar wat ’n lewe het hy nie gehad nie! Wat ’n voorreg vir ons om ná al die eeue hierdie toespraak, onthutsend soos dit was, te kan lees. Maar wat ’n ontnugtering as jy eensklaps begin wonder oor jou eie verheerlikte geskiedenis en besoedelde rolmodelle. En oor jou optrede teenoor hulle wat luidkeels van jou verskil.

Here, dit is die moeilikste ding: om onbevange te kyk na waar ek vandaan kom. Help my om u stem te hoor, ook in my nadenke oor dit alles.

Bron:
Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.