Gedagte vir die dag: ’n God wat voorsien

Blomme_Berg_Reint_Dykema_20.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Genesis 22:1-14

Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” (Genesis 22:13-14)

Ons ken almal die bekende verhaal van God se onbegryplike opdrag aan Abraham: dat hy sy enigste seun op Moria moet gaan offer. Wanneer hy hierdie bevel kry, is Abraham dadelik gehoorsaam, alhoewel hy so lank op Isak se geboorte moes wag en hierdie seun van hom die beliggaming van al God se beloftes aan hom was. Sonder om teë te praat, vertrek Abraham en Isak na Moria. Op pad moes Abraham heel waarskynlik gewonder het presies wat God se doel met hierdie opdrag was. Wanneer Isak ook dan nog vra waar die offerlam is, antwoord Abraham eenvoudig dat God sal voorsien.

Eers nádat hy Isak op die altaar vasgebind en Abraham reeds die mes uitgehaal het om hom dood te maak, tree God se voorsiening in werking. “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien,” sê God vir hom (Genesis 22:12). Hierna sien Abraham ’n skaapram wat met sy horings in ’n bos vasgevang is, en offer hy hierdie ram in die plek van sy seun.

’n Goeie herder voorsien in elke behoefte van sy skaaptrop. Net só voorsien jou hemelse Herder in jou behoeftes, al wag Hy soms totdat jy jou vertroue in Hom met jou dade beklemtoon het.

Here God, gee my ’n geloof soos Abraham sodat ek vir seker sal weet dat U in elke behoefte van my sal voorsien. Hou my geloof lewendig in die tye wanneer U dit toets. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.