Gedagte vir die dag:  ’n Goeie Herder

skape_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Johannes 10:11-21

“Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei”. (Johannes 10:15-16)

Aha, die Psalm 23 van die Nuwe Testament! Wat ’n mooi Jesusgelykenis! Vol eenvoudige beeldspraak, klinkklaar in sy bedoeling. Goed verstaanbaar vir almal wat maar ore het. Én oë wat van hulle en hul eie belangegroep af kan wegkyk. Want hier, midde-in die helder sekerhede, voeg Jesus by: Ek het nog ander skape ook.

Wie sou húlle wees? En wat sou so “anders” aan hulle wees dat hulle nie in “hierdie kraal” gehuisves word nie?

Skrifverklaarders het deur die eeue verskeie moontlike verklarings hiervoor aangebied, en ook hier geld daardie ou spreekwoord: soveel hoofde, soveel sinne. Kortom: Amper elke verklaarder bied ’n geldige uiteensetting van wat die oplossing vir hierdie verreikende uitspraak kan wees.

Dit is prysenswaardig dat daar so ernstig hieroor nagedink word. Dit is immers Jesus se eie woorde dié. En, laat ons maar ook hieroor eerlik wees, dit is ’n omstrede kwessie. Koelkopdenke is dus die aangewese roete.

Maar terwyl ons saam met die geleerdes hieroor dink, die verskillende moontlikhede oorweeg, die moontlikheid oop laat dat ons verras of dalk selfs ontstel gaan word – kom ons kry dan net oor een eenvoudige sakie eenstemmigheid: God is groter as wat ons dink. Hy dink verder as wat ons ons kan verbeel. Die goeie Herder se arms strek wyd, dit omvat méér as net my plaaslike klein kraaltjie. Niemand kan tog hiermee verskil nie – of hoe?

Dan beteken dit mos ook ek moet mooi dink wanneer ek so maklik praat van “ons” God. Daar is beslis ook ander “onse” in daardie pond.

Leer my, my goeie Herder, dat die goeie God die hele wêreld só liefgehad het dat Hy U hierheen gestuur het.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat ek deel mag wees van die kudde wat U dwarsoor die wereld versorg

Blomme

Amen