Gedagte vir die dag: ’n Herder wat jou dra

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: carbonchurch.com

Lees: Jesaja 40:1-11

Soos ’n herder versorg die Here God sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie. (Jesaja 40:11)

Ek het altyd in my laerskooldae by my niggie op hulle plaas na by Nuwerus gaan kuier. Die winterkuiers was die lekkerste, want dit is dan wanneer die nuwe lammertjies aangekom het. Een dag het ek en Sarah ’n lammertjie sonder ma in die veld gekry. Hy was al so swak dat hy nie self kon loop nie. Ons het hom opgetel en beurte gemaak om hom huis toe te dra. My oom was baie bly toe ons met die swak lammertjie by die huis aankom en het ons vertel dat hy heel waarskynlik nie die nag sou oorleef het as ons hom nie gekry het nie.

Wanneer daar van sy skape in die moeilikheid beland, is die herder dadelik by om hulle op te tel en na veiligheid te dra. God beloof in sy Woord dat Hy sy kinders sal dra – van jongs af totdat hulle oud geword het: “Luister na My, nageslag van Jakob, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red” (Jesaja 46:3-4).

As jy die Herder ken, is hierdie belofte persoonlik aan jou gerig: God sal jou dra, van jongs af totdat jy oud is. In sy arms hoef jy vir niks bang te wees nie.

Here God, dankie vir die belofte dat U my sal dra – van jongs af en ook wanneer ek oud is. Ek weet dat ek vir altyd veilig in u arms is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

louis ·

Dankie Here dat U altyd daar is wanneer ek te swak is om te loop en U my optel en dra. Vandag wil ek ook hierdie doring in my vlees en al my kommer en benoudheid aan die voete van Jeus kom neersit. Nou Here draai ek om en help my om nie weer terug te kyk nie. Amen

Maryke ·

AMEN
Dankie my Liewe Heer dat U ons dra< dat U vir ons rus bring.
Vandag vra ek U Here om my weer te dra asb? U ken ons harte en gedagtes, U weet wat volgende op ons wag. Maak ons asb sterk om elke krisis in ons lewe met geloof te hanteer.
Dankie Jesus vir U bloed wat vir ond gestort is aan die kruis. Amen

johann cb ·

Here, ek het by ‘n keerpunt in my lewe gekom. Dra my asseblief soos U nog altyd doen. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.