Gedagte vir die dag: ʼn Herder wat jou naam ken

 uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Johannes 10:1-5, 11-14

Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Ek ken my skape, en my skape ken My. (Johannes 10:3, 11, 14)

’n Herder wat sy sout werd is, ken elkeen van sy skape. Hy weet watter skape geneig is om van die trop af te dwaal en watter weier om na hom te luister. Die skape ken weer die herder se stem en wanneer hulle daardie stem hoor, is hulle gewillig om die herder te volg. Daar is ’n hegte band tussen ’n goeie herder en sy skape. Bybelse herders was soms selfs bereid om hulle lewe vir hulle skape op die spel te plaas as hulle die skape teen wilde diere moes beskerm.

Wanneer Jesus vir sy dissipels sê dat Hy die Goeie Herder is, praat Hy dus eintlik oor sy verhouding met hulle. Hy kyk ook vorentoe na sy dood wanneer Hy inderdaad sy lewe vir hulle aan die kruis sal aflê.

Jesus is ook jóú Goeie Herder. Hy ken jou persoonlik, en weet alles van jou af. Daar is niks wat jy vir Hom kan wegsteek nie. Hy ken jou verlede, jou hede en jou toekoms. Jy hoef dus nooit vir die toekoms bang te wees nie, want jou God sal ook daar wees. In Jesaja 43:1 bevestig God dat Hy jou op jou naam geroep het, dat jy aan Hom behoort. En hierdie Herder het rééds sy lewe vir jou aan die kruis afgelê. Uit dankbaarheid daarvoor behoort jy Hom vir die res van jou lewe te volg.

Here Jesus, dankie dat U my naam ken, dat U gewillig was om u lewe vir my af te lê. Ek wil U volg so lank ek lewe. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.