Lees: Psalm 23
Die HERE is my herder. Hy verkwik my siel. (Psalm 23:1, 3, Bybel in Afrikaans 1933/1953)
Dawid getuig dat sy Herder sy siel verkwik. “Verkwik” is vir my so ’n mooi woord wat ongelukkig deels in onbruik geraak het. Die HAT verduidelik dit as “opfris, verfris, laaf, opbeur, troos, nuwe krag en moed gee”. Wanneer die herder sy skaaptrop na ’n groen weiveld en ’n oorvloed van water lei, neem dit nie lank vir die moeë, dorstige skape om verfris te word nie. Vir my is die beste beskrywing van “verkwik” wanneer jou tuinplante dor en verlep is, maar dadelik na ’n reënbui weer fris en vars daar uitsien.
God as jou Herder onderneem om jou siel te ver kwik. Die profeet Hosea vra dat die volk na God moet terugkeer. “Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik,” nooi hy in Hosea 6:3.
In Deuteronomium 32:2 vertel God self vir sy volk hoe Hy hulle wil verkwik: “My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou.”
Wanneer jy verkwikking nodig het, wy jou opnuut aan die Here toe. Laat sy woorde toe om jou op te beur, te troos en vir jou nuwe krag en moed te gee. Gaan praat ook met jou Herder en deel die dinge wat jou moeg en moedeloos maak met Hom – dan sal jy na siel én liggaam verkwik wees.
Here, ek wil terugkom na U toe, my weer volkome aan U toewy en u woorde toelaat om my te verkwik na siel en liggaam. Amen.
Amen
Die 1933/53 aanhalings verbly my hart. Baie dankie.