Gedagte vir die dag: ’n Herder wat jou toekoms verseker

Blomme_Berg_Reint_Dykema_20.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Johannes 10:22-30

My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. (Johannes 10:27-29)

Indien jy aan die Herder behoort, het jy die versekering dat niks en niemand jou ooit weer uit sy hand sal kan ruk nie. Dit is immers God self wat jou aan Hom gegee het, deur geloof in jou hart te bewerk. As hulle aan hulleself oorgelaat word, sal skape dit nie lank maak nie. Dit berus by die herder om hulle veilig te hou, hulle te beskerm en vir hulle die dinge te gee wat hulle nodig het. By jou Herder is jy veilig vir altyd.

Die meeste skaapboere merk hulle skape aan die oor sodat ander mense kan sien aan wie se trop hulle behoort. Gewoonlik gaan hierdie merkery met pyn gepaard, maar dit verseker dat die betrokke skaap vir die res van sy lewe as die herder se eiendom uitgeken sal kan word.

As die “merk” van Jesus se kruis oor jou lewe geskryf is, beteken dit dat jy tydens hierdie lewe en ook na jou dood veilig by Hom sal wees. Maar dan behoort jy gewillig te wees om jou kruis op te neem, jouself te verloën en Hom te volg (Matteus 16:24).

Here Jesus, dis wonderlik om te weet dat ek vir altyd veilig by U is; dat niemand my ooit uit u hand sal kan ruk nie. Help my om so te lewe dat ander mense duidelik sal kan sien dat ek aan U behoort. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

God se beloftes is vir ewig waar.
Sy genade genoeg
God sal jou seen……(Deut 28)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.