Gedagte vir die dag: ’n Herder wat rus beloof

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpgLees: Psalm 23

Die Here is my herder. Hy laat my rus in groen weivelde. (Psalm 23:1-2)

Hierdie prentjie wat Dawid in Psalm 23 skilder, laat my altyd terugdink aan ons toer deur die skilderagtige Wallis met sy groen heuwels waar daar oral skape onder die koeltebome lê en rus. ’n Goeie herder sorg dat sy skaaptrop genoeg weiding het, dat hulle honger en dors gestil is. ’n Skaap wat genoeg geëet en gedrink het, is ’n rustige skaap.

Maar ménse jaag deesdae van die een plek na die ander, sonder rusperiodes tussen-in. Een van die dinge wat ons die nodigste het, is rus. En die enigste plek waar ons ware rus kan kry, is by God. “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek,” getuig Dawid in Psalm 62:6.

God beloof nie net om in sy kinders se fisieke behoeftes te voor sien soos ’n herder vir sy skape voorsien nie, maar ook dat Hy vir ons rus en geestelike voedsel sal gee. Skape het fisieke kos nodig, maar mense het ook geestelike voedsel nodig. Indien jou lewe op die oomblik onrustig en gejaagd is, nooi God jou om by Hom te kom rus.

Dan sal jy egter genoeg tyd moet inruim om rustig te word met sy Woord. Indien jou eie lewe gejaagd en oorvol verpligtings is, raak rustig! Ruim elke oggend en aand vir jou ’n tydjie in waar jy by God kan rus en deur sy Woord verkwik kan word sodat jy elke dag nuwe krag by Hom kan kry, en met sy vrede in jou lewe kan leef.

Here, ek het die rus wat U beloof so nodig en ek weet dat ek dit net by U kan kry. Ek wil nou rustig word met u Woord en U toelaat om my geestelik te verkwik. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genieve Moses ·

Here gee my kalmte sodat ek rus by u kan vind..dankie vir Ps23.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.