Gedagte vir die dag: ’n Jaar saam met Jesus

reënboog.jpg

Foto: credomag.com

Lees: Jesaja 9:1-6

’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie. (Jesaja 9:5-6, NLV)

Die Kind waaroor Jesaja skryf, wil in die nuwe jaar wat voor jou lê jou Raadsman wees; Hy wil rigting gee aan jou lewe en jou van wysheid en raad bedien wanneer jy dit nodig kry. Hy wil jou almagtige God wees wat steeds wonders in jou lewe sal doen in die jaar wat kom, mits jy naby Hom leef. Derdens wil Hy jou ewige Vader wees, ’n Vader wat onderneem om vir jou te sorg soos ’n aardse pa vir sy kinders sorg, net baie beter. Hy het jou veel liewer as jou aardse pa en Hy weet ook presies wat jy volgende jaar nodig sal hê. Laastens is Hy die Vredevors, die Koning van vrede wat vir jou vrede kan waarborg in ’n wêreld vol onrus en geweld.

Die kind wat gebore is in die tyd van Jesaja het vir God se volk vrede en voorspoed gebring. Aan die begin van elke nuwe jaar wens ons dat hierdie jaar vir óns vrede en voorspoed sal inhou. God belowe inderdaad vrede en voorspoed as jy die nuwe jaar saam met Jesus ingaan. Selfs wanneer daar dae van onvrede en teenspoed opduik, het jy steeds hierdie Kind by jou om vir jou te onderneem. Ek hoop God se vrede en voorspoed in die nuwe jaar wat voorlê, sal by jou wees.

Here Jesus, ek loof U dat ek saam met U die nuwe jaar wat voor my lê kan ingaan. Dankie dat U vir my sal raadgee, vir my wil onderneem en sorg en vir my u vrede beloof. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.